Local newsNewsNews

AfriForum-buurtspan spring in om Konsentrasiekampterrein vir gedenkdag gereed te maak

Die buurtspan bestaande uit, Jannie Opperman en Daniël Mulder, was hard aan die werk om die terrein netjies te kry. Dit is maar van die plekke waar hul dele van Potch netjies hou.

Die AfriForum-buurtspan in Potchefstroom het Woensdag, 10 Junie, weer gewys dat hulle bereid is om die moue op te rol waar werk gedoen moet word, toe hulle die terrein by die Vyfhoek-konsentrasiekampkerkhof skoongemaak het ter voorbereiding van die jaarlikse Konsentrasiekampdag-herdenking wat op 16 Junie plaasvind.

Die buurtspan, bestaande uit Jannie Opperman en Daniël Mulder, het die terrein in Burgerstraat, Van der Hoffpark, skoongemaak om seker te maak dat die geskiedkundige gedenkplek netjies en waardig is vir die kranslegging wat Dinsdag om 09:00 daar gehou sal word.

Kyk die video hier:

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is die organisasie vasbeslote om op te tree waar die munisipaliteit nie sy verantwoordelikhede nakom nie.

“Al is dit die munisipaliteit se werk, sal AfriForum steeds daadwerklik die werk doen waarby die munisipaliteit nie uitkom nie,” sê Pretorius.

Sy nooi ook die gemeenskap om die herdenking by te woon.

“’n Kranslegging ter herdenking van Konsentrasiekampdag sal op 16 Junie om 09:00 by die Vyfhoek-konsentrasiekampkerkhof plaasvind. Almal is welkom om die geleentheid by te woon en hulde te bring aan diegene wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe gely en gesterf het.”

Daniël Mulder besig om met ‘n onkruidvreter skoon te maak. Foto: Tania Coetzee

Die skoonmaakaksie vorm deel van die buurtspan se breër mandaat om gemeenskappe te ondersteun en praktiese oplossings te bied waar infrastruktuur en openbare ruimtes nie voldoende onderhou word nie.

Die Potchefstroom-buurtspan het gedurende Mei amptelik hul bedrywighede afgeskop as deel van AfriForum se Potchefstroom-tak. Sedertdien was Opperman en Mulder reeds betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte.

By Laerskool Bailliepark het die span gehelp om ’n ou fietsloods te omskep in ’n klein pawiljoen wat by die skool se tennisbane gebruik kan word. Hulle het ook gehelp om die skool se palissade af te skuur. By Laerskool Mooirivier het hulle die palissade rondom die naskoolsentrum afgeskuur en geverf.

Pretorius het vroeër gesê sy is opgewonde oor die potensiaal van die nuwe inisiatief.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe inisiatief. Die buurtspan kan werklik ’n groot verskil in Potchefstroom maak en ek wil die gemeenskap aanmoedig om van hulle dienste gebruik te maak,” het sy gesê.

Die Potchefstroom-tak beoog ook om hul betrokkenheid verder uit te brei deur ’n herwinningsinisiatief in samewerking met Deswalner Herwinning van stapel te stuur. Die projek het ten doel om die omgewing te help bewaar en terselfdertyd by te dra tot ’n skoner Potchefstroom.

Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, glo die dorp het die potensiaal om weer sy voormalige status as een van die netjiesste dorpe in die land te herwin.

“Potchefstroom was voorheen een van die mees netjiese dorpe in die land en dit is ’n bitter pil om te sien hoe hierdie geskiedenisryke dorp met fantastiese onderrig- en mediese fasiliteite so in verval gedompel word. Iets moet gedoen word en AfriForum se Potchefstroom-tak begin dalk klein, maar hulle het ’n groot toekoms in gedagte,” sê Bourn.

Volgens hom is die doelwit om binne die afsienbare toekoms minstens vyf aktiewe buurtspanne in Potchefstroom te vestig.

“Om dit te laat geskied is die gemeenskap se samewerking en inkoop nodig.”

Met die skoonmaak van die Vyfhoek-konsentrasiekampkerkhof hoop AfriForum nie net om die terrein gereed te kry vir die komende herdenking nie, maar ook om die belangrikheid van die bewaring van plaaslike geskiedenis en erfenisterreine onder die publiek se aandag te bring.

Kyk na die video hier:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button