Local newsNewsNews

Gesin moet weer herbou na brand huis verwoes

Die gesin het vinnig gereageer en seker gemaak dat almal veilig uit die huis kom terwyl die nooddienste ontbied is.

‘n Brand het ’n gesin van Promosa op Jeugdag (16 Junie) met die moeilike taak gelos om weer die stukke op te tel nadat groot gedeeltes van hul huis deur vlamme in Lekaystraat verswelg is.

Hul is dankbaar dat niemand seergekry het of dood is tydens hierdie brand nie.

Die gesin vermoed dat die brand moontlik die gevolg van brandstigting was.

Volgens die huiseienaar, Jeff Stoffels, het die brand omstreeks 20:30 uitgebreek.

Sy seun, Caylippe Stoffels, wat saam met sy jonger broer in die gedeelte van die huis woon wat die ergste deur die vlamme getref is, vertel die aand het soos enige ander begin.

“Ek het boontoe gegaan om my foon te kry en daarna ondertoe gegaan om die skottelgoed te was. Terwyl ek besig was, het ek ’n harde geluid gehoor, soos iets wat klap of val, maar ek het dit geïgnoreer en aangehou was,” vertel hy.

Toe hy dieselfde geluid ’n tweede keer hoor, het hy besluit om ondersoek in te stel.

Caylippe se kamer nadat dit gebrand het. Foto: Tania Coetzee

“Toe ek met die trappe opkom, was alles in vlamme toegevou. My kamer en die badkamer was aan die brand. Dit lyk asof iets deur my boetie se venster gegooi is en dit het die huis dalk aan die brand gesteek. Ons is nie seker nie.”

Met die skok van die toneel nog vars in sy geheue, het Caylippe terug by die trappe afgehardloop en sy ouers gewaarsku.

“Ek het geskree dat die huis brand.”

Die gesin het vinnig gereageer en seker gemaak dat almal veilig uit die huis kom terwyl die nooddienste ontbied is.

Hoewel niemand beseer is nie, het die brand ’n verwoestende tol geëis.

Die seuns se badkamer. Foto: Tania Coetzee

Caylippe sê hy het baie van sy besittings verloor, maar die verlies van sy klere, skoene en identiteitsdokument tref hom die hardste.

“Al my klere en skoene het gebrand,” sê hy.

Vir Jeff is daar egter een gedagte wat uitstaan te midde van die verwoesting.

“Ek is net bly my kinders het nie geslaap toe dit gebeur het nie. Dit kon baie erger geëindig het. Hulle kon dood gewees het,” sê hy.

Caylippe se boetie se kamer, waar die brand moontlik ontstaand het. Foto: Tania Coetzee

Teen die tyd dat die Potchefstroom Herald die toneel besoek het, was die brandweer steeds besig met hul ondersoek. Die polisie moes nog hul ondersoek begin en die presiese oorsaak van die brand was nog nie bekend nie.

Te midde van die hartseer het die gesin reeds ondersteuning vanuit die gemeenskap ontvang.

Caylippe Stoffels, in die puin van wat eens sy kamer was. Foto: Tania Coetzee.

Volgens Jeff het vriende en gemeenskapslede aangebied om te help om die puin op te ruim en die gesin by te staan in hierdie moeilike tyd.

Enigeen wat die gesin wil ondersteun met donasies om Caylippe te help om weer noodsaaklike items soos klere en skoene aan te skaf, kan hom kontak by caylippestoffels2@gmail.com of 072 546 4993.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button