NWU nie gesluit ondanks berigte oor landwye betogings
Die verwarring volg nadat berigte die ronde gedoen het dat die universiteit sou sluit te midde van die beplande optogte teen onwettige immigrasie.
Die Noordwes-Universiteit (NWU) het bevestig dat sy kampusse op Dinsdag 30 Junie normaal sal funksioneer, ondanks berigte in die media en op sosiale media dat die universiteit alle bedrywighede opgeskort het weens beplande landwye betogings.
Die verwarring volg nadat berigte die ronde gedoen het dat die universiteit sou sluit te midde van die beplande optogte teen onwettige immigrasie.
Volgens die NWU bly 30 Junie egter ’n normale werksdag en sal personeel hul pligte moet nakom, hetsy op kampus of deur goedgekeurde afgeleë werkreëlings.
“30 Junie 2026 bly ‘n normale werksdag. Personeel word verwag om hul pligte na te kom, hetsy op kampus of deur middel van goedgekeurde afstandwerkreëlings, onderhewig aan operasionele vereistes en die diskresie van hul lynbestuurders,” het die universiteit gesê.
Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het aan die Herald bevestig dat die universiteit nie sy deure op 30 Junie sluit nie.
“Die universiteit is nie gesluit nie. Personeel wat ongemaklik voel oor die situasie, kan in oorleg met hul bestuurders van die huis af werk, maar die universiteit bly oop en bedrywighede gaan voort,” het Jacobs gesê.
Die universiteit sê hy is bewus van die beplande landwye optogte op 30 Junie en die kommer wat sommige personeellede, veral buitelandse burgers wat wettig in Suid-Afrika woon en werk, uitgespreek het.
Volgens die NWU werk sy Beskermingsdienste saam met wetstoepassingsagentskappe in Noordwes en Gauteng om die nodige veiligheidsmaatreëls op en rondom die kampusse in plek te stel.
“NWU-beskermingsdienste werk saam met wetstoepassingsagentskappe in beide die Noordwes-provinsie en Gauteng-provinsie om te verseker dat die nodige maatreëls ingestel word om alle NWU-personeel en -studente op en om ons kampusse te beskerm,” het lui die verklaring.
As ’n voorsorgmaatreël is tweedegeleentheidseksamens wat vir 30 Junie geskeduleer was, na 13 Julie uitgestel, waarna die tweede semester op 14 Julie sal begin. Alle ander tweedegeleentheidseksamens sal egter volgens die akademiese kalender voortgaan.
Die organisasie March and March het intussen aangekondig dat landwye betogings op 30 Junie beplan word en het onwettige immigrante tot dié datum gegee om die land te verlaat.
Die NWU het studente en personeel aangemoedig om enige bekommernisse of navrae met die relevante Beskermingsdienste-kantoor op hul onderskeie kampusse op te neem.



