Nuwe leierskap neem stuur by Potchefstroom Sakekamer
Die Sakekamer het die nuwe aanstellings verwelkom en beide Badenhorst en Pretorius met hul nuwe rolle gelukgewens.
Die Potchefstroom Sakekamer het sy nuwe voorsitter en ondervoorsitter aangewys en sien uit na ‘n nuwe tydperk van groei, samewerking en sterk leierskap vir die plaaslike sakegemeenskap.
Juan Badenhorst is as die nuwe voorsitter aangestel. Volgens Badenhorst is sy doel om die Sakekamer verder te vestig as die stem en netwerkplatform van die plaaslike sakegemeenskap. Hy wil sterker samewerking tussen besighede, plaaslike owerhede en ander organisasies bevorder, terwyl nuwe geleenthede vir groei en ontwikkeling geskep word.
“’n Sterk sakegemeenskap begin by mense wat betrokke raak,” sê hy.
Reno Pretorius, stigter van Entratec en al langer as ‘n dekade ‘n trotse lid van die Potchefstroom Sakekamer, is as die nuwe ondervoorsitter aangewys. Met ‘n visie wat op samewerking, leierskap en geleenthede fokus, wil Pretorius ondernemings bemagtig, professionele netwerke versterk, vir lede se belange intree en saam met gemeenskapsrolspelers werk om volhoubare ekonomiese groei in Potchefstroom te bevorder.
Die Sakekamer het die nuwe aanstellings verwelkom en beide Badenhorst en Pretorius met hul nuwe rolle gelukgewens. Volgens die organisasie sal hul leierskap en vars idees help om die plaaslike sakegemeenskap verder te versterk.
“Sterk besighede bou sterk gemeenskappe,” het die Sakekamer gesê.



