Man oorlede in motorongeluk op die Bult
Nooddienste was omstreeks 22:13 op die toneel waar die man verongeluk het.
‘n Man is Woensdagaand (29 Julie) in ‘n motorongeluk op die hoek van Rissik en Wilgenstrate oorlede.
Nooddienste was omstreeks 22:13 op die toneel waar die man, wat volgens die Herald se inligting ‘n bekende dokter is, verongeluk het. Daar was geen ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.
Die Herald het kringtelevisie-beeldmateriaal waar daar gesien kan word hoe die man beheer oor sy motor verloor voordat hy in ‘n boom en lamppale vasry.
Volgens NW polisiewoordvoerder, Sersant Kelebogile Morake, word ‘n saak van strafbare mansslag ondersoek.
“Die man is dood op die toneel verklaar. Sy liggaam is na die Potchefstroom Lykshuis vervoer waar ‘n nadoodse ondersoek uitgevoer sal word.”
Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
* Die Herald kon nog nie met die man se familie in kontak kom nie.
Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.



