Onwettige studentebehuising skep verskeidenheid kwessies
Volgens Irma Conning, 'n eiensdomspraktisyn, is dit nie ’n opsie om bestaande studentehuise weer na Res 1 te omskep nie, aangesien dit te duur sal wees.
Die groei van onwettige studentebehuising in Potchefstroom plaas nie net studenteveiligheid onder die soeklig nie, maar laat ook vrae ontstaan oor die kapasiteit van die dorp se infrastruktuur.
So sê DA-wyksraadslid vir wyk 7, André Klopper, wat al jare lank probeer om die kwessie aan te spreek.
Volgens Klopper het hy reeds talle gesprekke met die munisipaliteit en die Noordwes-Universiteit gevoer, maar daar is steeds geen daadwerklike oplossing nie.
“Daar is ’n gebrek aan administrasie en toesig rakende onwettige behuising op munisipale vlak. Die prosedures moet net gevolg word om seker te maak dat alles in plek is.”
Volgens Klopper kan die bestaande infrastruktuur nie die hoeveelheid studente op sekere persele hanteer nie.
“Die sisteem word oorlaai,” sê hy.
Klopper meen dit is ook ’n morele kwessie waneer studente se veiligheid verontagsaam word.
“Baie studente soek net ’n blyplek en hulle gee nie om om tussen ander studente in een huis te bly nie. Daar is ’n huis waar daar meer as 30 studente bly,” sê hy.
Volgens hom word finansiële voordeel uit beurs- of NSFAS (Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente)-geakkrediteerde behuising getrek, wat daartoe lei dat residensiële gebiede sonder die nodige dokumentasie omskep word.
Ooraanbod in Potch Sentraal
Irma Conning, ’n Meester-eiendomspraktisyn met 25 jaar ondervinding in die Potchefstroomse eiendomsmark en ’n spesialis in studentebehuising, sê daar is veral ’n ooraanbod van studentebehuising in Potch Sentraal.
Sy verwys na gevalle waar huise opgekoop is om aan NSFAS-studente behuising te verskaf. Volgens haar kan die finansiële onsekerheid rondom NSFAS egter daartoe lei dat dié huise leeg staan en uiteindelik “wit olifante” word.
“Verhuurders het sedert Januarie studente gehuisves sonder om te weet hoeveel hulle betaal sou word,” sê sy.

Volgens Conning het ’n nuwe groep operateurs ook tot ’n toename in nie-voldoende studentebehuising gelei.
“’n Nuwe golf opportunistiese operateurs plaas studente in gewone huise sonder om ooit vir hersonering aansoek te doen. Geen Res 3 nie. Geen terreinontwikkelingsplan nie. Geen brandsertifikaat nie. Geen goedkeuring oor die gebou se veiligheid nie.”
Conning sê dié eiendomme plaas eiendomseienaars wat wel aan die vereistes voldoen onder druk.
“Hulle onderbied die mark wat wel aan die vereistes voldoen, terwyl die munisipaliteit nooit die hoër waardasieheffing ontvang waarop hy wetlik geregtig is nie. Wat dienste betref, word bydraes vir grootmaatwater, riool en elektrisiteitsopgraderings wat met hersonering betaal moes word, nooit betaal nie, terwyl die dienste steeds teen tot 10 keer die ontwerpvermoë gebruik word.”
Sy sê dié eiendomme is moeilik om in die beplanning van studentebehuising in ag te neem omdat dit nie op die munisipale beplanningsregister as studentebehuising verskyn nie.
“Omdat hierdie eiendomme nooit op die dorpsbeplanningsregister as studentehuise geregistreer word nie, is hulle onsigbaar. Die Raad kan hulle nie in sy studentetalle inreken nie,” noem Conning.
‘n Inwoner van Kanonierspark was verkies om anoniem vir sy eie veiligheid te bly, noem dat hy omring is deur studentehuise.
“Dit is so erg dat ek nie meer bure het nie. As ‘n noodsituasie by my ontstaan, is daar niemand by wie ek om hulp kan gaan vra nie. Die karakter van die buurt het ook heeltemal verander, wat weer die waarde van my eiendom laat daal het. Daar is geen toesig oor die studente nie, soos in ‘n koshuis nie,” verduidelik hy.
“Ons het destyds baie geld gespandeer om vir ons huise te bou om nou net te sien hoe die plek in ‘n hool verval. Die ergste is dat die meeste mense wat besig is met hierdie ontwikkelings nie plaaslike mense is nie.”
Geen eenvoudige terugkeer na Res 1
Volgens Conning is dit nie ’n opsie om bestaande studentehuise weer na Res 1 te omskep nie, aangesien dit te duur sal wees.
“Die gevolg sal leë, gevandaliseerde huise wees wat vir koper gestroop word en uiteindelik ’n toevlugsoord vir misdaad en rondlopery word. Dit sal die waarde en veiligheid van die hele straat aftrek,” sê sy.
Conning meen daar moet ook tussen die verskillende studentemarkte onderskei word.
“Daar is wel ’n vraag na behuising by die NWU, en NSFAS bied ’n hoër behuisingstoelae aan NWU-studente as aan TVET-studente. Die gevolg is dat meer mense nou hersonering in die Sentraalgebied wil bekom om NWU-kontrakte te kry. Dit is sinneloos.”
Volgens haar behoort bestaande, voldoenende studentebehuisingsverskaffers eerder eerste oorweeg te word.
“NWU behoort eerstens bestaande, voldoenende verskaffers te akkrediteer wat sukkel met vakatures.”
Infrastruktuur onder druk
Volgens Conning moet die kapasiteit van Potchefstroom se munisipale infrastruktuur ’n belangrike rol speel wanneer nuwe hoëdigtheid-ontwikkelings oorweeg word.
“Die belangrikste vraag is: Kan ons infrastruktuur meer digtheid hanteer? Hersonering word toegestaan op grond van die kapasiteit van grootmaatdienste.”
“Hoe kan die Raad die groen lig gee vir hoëdigtheid-Res 3 studente-ontwikkelings indien die afvoer van die rioolstelsel reeds in ’n benarde toestand is?” vra sy.
Volgens haar moet die Raad ook die sekerheid van NSFAS-betalings en tegniese bevestiging deur gekwalifiseerde ingenieurs dat die bestaande grootmaatdienste die bykomende kapasiteit kan hanteer, in ag neem.
“Dit sal onverantwoordelik wees vir die Raad om enige verdere Res 3-hersonering goed te keur voordat hulle die werklike aantal studente vasgestel het, insluitend dié wat in eiendomme woon wat nie aan die regulasies voldoen nie.”
Munisipaliteit ondersoek kwessie
Die Herald het verlede maand terugvoer van die munisipaliteit ontvang dat daar wel begin is om teen onvoldoende studentebehuising op te tree.
Volgens JB Marks-munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite, het die NWU hom daartoe verbind om saam met die munisipaliteit te werk om te verseker dat:
* Studenteverblyf wat nie aan soneringsregulasies voldoen nie, nie tydens die Universiteit se akkreditasiehersiening geakkrediteer word nie;
* ’n terreininspeksie uitgevoer word om die geldigheid van ’n gerapporteerde oortreding te bevestig; en
’n oortredingskennisgewing uitgereik word nadat ’n oortreding geverifieer is.
* Die kennisgewing sit die nodige stappe uiteen om aan grondgebruikvereistes te voldoen, soos bepaal deur die Spatial Planning and Land Use Management Act (SPLUMA)-bywet en Tlokwe-stadsbeplanningskema.



