Jong model wil ander inspireer met sy talent
Logan Workel, is 'n M.L. Fick-leerder, wat as Mr Junior Best Model SA 2026 gekroon is.
Om op ’n loopplank te stap en voor ’n kamera sy beste glimlag te gee, is iets wat die 8-jarige Logan Workel laat straal.
As ’n bonus behaal hy verskeie titels met sy talent en is hy gekroon as Mr Jnr Best Model SA 2026, wat tot dusver sy grootste prestasie is. Hy is ook ’n Mr & Miss ACE Models International 2026-finalis.
Logan, wat by Laerskool M.L. Fick skoolgaan en by ACE Models Potchefstroom verbonde is, het reeds van ’n jong ouderdom af ’n passie vir modelwerk getoon.
Hierdie blondekopseuntjie straal voor ’n gehoor en geniet dit om met selfvertroue, dissipline en respek op verskillende platforms op te tree.

Modelwerk help hom ook om meer selfvertroue te ontwikkel, voor mense te praat en homself professioneel te verteenwoordig.
“Hy leer dat dit belangrik is om nederig te bly wanneer jy wen, om aan te hou wanneer dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie en om altyd ander met vriendelikheid en respek te behandel. Logan wil graag hê dat ander kinders moet weet dat hulle groot mag droom, ongeag hul ouderdom of waar hulle vandaan kom,” noem sy ma, LeeAnn.
Logan het ook ’n gemeenskapsinisiatief genaamd “Little Hands, Big Heart.” Hiermee wil hy jong kinders inspireer en positiwiteit terugbring. Logan is net soos enige ander 8-jarige seuntjie wat daarvan hou om te speel en die lewe saam met sy maats te geniet.
Sy deelname aan Mr & Miss ACE Models International skep die moontlikheid van verdere internasionale blootstelling en ’n toekomstige geleentheid om Suid-Afrika in Amerika te verteenwoordig.
Logan se familie glo dat groot drome juis is wat kinders moet aanmoedig om hul volle potensiaal te bereik.



