Gelowige familieman was sy gesin se rots
"Pappa was ’n legende. Wanneer ’n helpende hand nodig was, was die man daar nog voor jy wakker geword het."
Nes Francois Pieters se fondasie in die Here gerig was, het hy dieselfde rotsvastheid na sy gesin en familie oorgedra.
Francois (63), ’n bekende provinsiale verkeersbeampte van Potchefstroom, se afsterwe op Saterdag, 5 September, los ’n groot leemte in sy gesin se lewens.
Sy kinders, Mioné en Francois, was baie geheg aan hul pa, wat hul nommer een-held was en altyd moed ingepraat het.
“Daar was altyd ’n tyd vir koffie en ietsie soet. Pappa was ’n legende. Wanneer ’n helpende hand nodig was, was die man daar nog voor jy wakker geword het.”

“Hy was die man na wie baie mense opgekyk en wat hulle gerespekteer het. Hy het altyd ons kinders se vriende raakgeloop en ’n geselsie aangeknoop. Sy huis was altyd oop vir ons maatjies, van laerskool af. Hy het altyd gelag en positiewe woorde gehad,” vertel Mioné.
Sy familie vertel dat hy deur en deur ’n Man van God was en dat sy hart altyd by die Here was.
Hulle noem ook dat hy met sy teenwoordigheid avontuur, onvoorwaardelike liefde en ondersteuning gebring het. Hy sou eers ander help en wou nie hê dat mense oor hom moes ontferm nie.
Hy was ook baie lief vir die natuur, honde en diere oor die algemeen. Hy het ’n goeie, sterk werksetiek gehad. ’n Netjiese mens en goed met sy hande.
Francois is ’n oudleerder van Hoër Volkskool Potchefstroom. Hy het by die polisie aangesluit en spoorsnywerk vir Koevoet gedoen. Daarna was hy in die TPA en toe as verkeersbeampte in Potchefstroom. Francois was trots op sy werk en het baie liefde en respek vir sy werkskollegas gehad. Hy het ook ’n groot liefde vir sy motorfiets gehad wat hy gereeld oor naweke gery het.

Dit is juis sy medemenslikheid en vriendelike geaardheid wat mense aangeraak het.
“Wanneer hy ’n persoon in die dorp raakloop, het hy altyd stilgestaan vir ’n woord of twee. Hy sou maklik geselsies aanknoop of selfs net ’n vinnige ‘hallo’ en ’n grappie deel. Hy het altyd laggend weggestap met ’n glimlag op sy gesig.”
Nog ’n passie in Francois se lewe was sport. Rugby en atletiek was sy grootste belangstellings. Hy het in die verlede met rugbyafrigting by Volkies gehelp en die kinders se potensiaal raakgesien en ontwikkel.
“My pa was self ’n rugbyspeler by Volkies toe hy op skool was en het selfs die rekord vir die 100 m-atletiekitem gehad wat vir jare by Kenneth McArthur-stadion gestaan het,” noem Mioné.
Francois se beste vriend was Natie du Toit. Hulle was soos vinkel en koljander. Natie was Francois se regterhandman – ’n vriend wat ’n broer geword het.
Francois laat sy twee boeties en sussies, sy twee kinders, Francois en Mioné, en sy kleinseuntjie, Kael, wat sy grootste trots en eer was, agter.



