Baillie Park se dogterskrieketspan maak geskiedenis
Die span het in Wolmaransstad teen Laerskool Vryburg te staan gekom.
Baillie Park se Onder 13A-dogterskrieketspan het geskiedenis gemaak deur as die Noordwes-ligawenners gekroon te word ná ’n indrukwekkende oorwinning in die finaal.
Die span het in Wolmaransstad teen Laerskool Vryburg te staan gekom en die finaal met vyf paaltjies gewen.
Die prestasie is nog meer besonders aangesien die jong krieketspelers van die begin van die toernooi, en deur die hele seisoen, onoorwonne gebly het.
Ansu Fourie het ook ’n puik bydrae tot die span se sukses gelewer en is as Speler van die Wedstryd aangewys. Sy het met uitstekende boulwerk drie paaltjies vir slegs 21 lopies geneem.
Dit was Baillie Park se eerste dogterskrieketseisoen, maar die jong spelers het sommer dadelik hul merk gemaak.
Die span se sukses is die resultaat van harde werk, deursettingsvermoë, toewyding en spanwerk deur die spelers, afrigters en ondersteuners.
Baillie Park kan met reg trots wees op hierdie jong kampioene wat die skool se naam hoog gehou en in hul eerste dogterskrieketseisoen reeds geskiedenis gemaak het.




