Hierdie komende Maandag, 28 September kry die NWU Eagles weer die geleentheid om hul Varsity Netbaltitel te verdedig wanneer hul teen UJ te staan kom.
Die NWU gaan nie maklik hul greep van die trofee los nie, al het UJ al vroeër in die toernooi vir die Potchefstromers geklop. Inteendeel sal dit die NWU verder motiveer om nou sake in die eindstryd in Mahikeng reg te stel.
Een van die NWU se sterkpunte vanjaar is die manier hoe hul vasbyt en koelkop in die laaste kwart bly om wedstryde deur te trek. Hul moes hierdie mentaliteit teen Tukkies wys toe hul die half-eindstryd in Pretoria voor die Tukkie-skare met 52-50 die afgelope Maandag gewen het.

Daar was wel ‘n goeie aantal NWU ondersteuners wat die dames aangespoor het – iets wat hierdie komende Maandag nog meer die geval in Mahikeng sal wees.
UJ is vanjaar die voorlopers in die toernooi en hul sal graag hul eerste Varsity Netbaltitel wil inpalm. Hul was voorheen finaliste in 2023 en 2024. UJ se Kadijat Abubakar was in goeie vorm in hul half-eindstryd teen Kovsies.
Sunel Smit is een van die NWU se staatmakers vanjaar in die doelsirkel. Sy is ook aangewys as een van die die top 3 spelers van die toernooi. Haar en Andrya Joubert se kombinasiespel en verstandhouding het die NWU menige keer laat voordeel trek. Op die verdediging is die NWU ook vuur en vlam met kaptein, Vivian Venancio en Christi-Mari Coetzee wat puik toernooie beleef.
“Dit is werklik spesiaal. Ek is baie trots op elke speler in die span. Om die finaal te bereik, is nie ‘n gegewe nie. Die kompetisie is baie sterk, soos altyd. Ons is dankbaar dat ons dit kon deurtrek en nog ‘n kans het om as ‘n span vir die beker mee te ding.
Die wedstyd tussen die NWU en UJ begin om 19:00.



