Fraiings – Besinning
Essie Bester – Met die oopslaan van my dagboek ontdek ek verras dat een volle maand verby is. “RAAK ONTSLAE VAN EMOSIONELE AANKOPE,” is in hoofletters by vandag se datum geskryf. Ek gryp na my slimfoon. Ek het onlangs ֹ’n facebook-advertensie gesien waar klere aangevra word. “Aha! Hier is dit. ’n Street boutique.” Die doel …

Essie Bester –
Met die oopslaan van my dagboek ontdek ek verras dat een volle maand verby is. “RAAK ONTSLAE VAN EMOSIONELE AANKOPE,” is in hoofletters by vandag se datum geskryf.
Ek gryp na my slimfoon. Ek het onlangs ֹ’n facebook-advertensie gesien waar klere aangevra word. “Aha! Hier is dit. ’n Street boutique.” Die doel daarvan is om aan minderbevoorregtes ’n unieke inkopie-ervaring te bied. Besoekers kan die nodige kies uit klere wat deur die gemeenskap geskenk word.
“Hmm … briljant! Én meerdoelig.” Eerstens – die wete dat die klere in hande val wat dit werklik nodig het. Tweedens – ’n manier van boetedoening. Nie groot en lofwaardig nie, maar darem! ’n Manier om terug te gee aan die gemeenskap. “Ek sal saamry,” bied my man entoesiasties sy hulp aan. “Natuurlik bang ek trek kleinkoppie!” Terwyl ek vasbeslote in my handsak begin rondsoek na motorsleutels, stap hy solank kamer toe om die kartondoos vol aankope te kry.

Dis bedrywig by die street boutique. Hangers van karton gemaak en gedrapeer met kleurvolle items, dartel vrolik in die wind. My kartondoos vol troos-aankope beland tussen baie ander. Besoekers is reeds besig om keuses te maak. Binne minute word die duursame baadjie, wat in die winkel al te knap oor my skouers gespan het, opgeraap.
’n Verkeerde-snit bloes en helderblou serp kry ook in ’n kits nuwe eienaars. Die wind herinner met ysige vingers aan die genadelose koue van ons hoëveld-winters en bibberend word warmgoed stywer toegeknoop. ’n Snoesige woltrui word met waardering van ’n hanger afgehaal. Dankbaar trek die nuwe eienaar dit dadelik aan. Ek kry lus om soos ’n tevrede kat te spin van genoegdoening.
Projek 333 het my manier van doen verander. Dié tong-in-die-kies eksperiment het my persoonlike styl na vore laat tree. Mode-voorskrifte is nou vir altyd taboe! Ek erken dat ek nie streng by die 33 item reël gehou het nie. Nogtans het ek dit reggekry om met heelwat minder tevrede te wees. Die afgelope maand kon ek elke dag stylvol, mooi én warm aantrek.
Van nou af gaan ek doelbewus daarop konsentreer om aankope (enige aankope), meer bewustelik te doen. En myself gereeld afvra: “Het ek regtig dit regtig nodig?”



