Ek is nie ’n ou wat van groente hou nie. Daar is sekere groente wat ek sal eet, maar dan is daar groente wat ek net nie in my mond kan kry nie.
As jy my nou regtig wil bederf, gee vir my rys, vleis en aartappels. Aiden aan die ander kant, is nog altyd meer soos sy ma, hulle eet enige iets. Maar die afgelope naweek terwyl ek myself by ’n rampartytjie besig gehou het, het my vrou by haar ma-hulle gaan kuier. Sondagmiddag besluit Aiden toe vandag is die dag, dat hy net rys en sous wil eet.
Hy wil niks anders hê nie. My skoonpa maak toe so ewe die opmerking: “Hy begin al klaar met sy pa se stories.”
Hy was minder taktvol in sy woordkeuse, maar die boodskap was duidelik.
Die rampartytjie het al Vrydagoggend begin. Dit is die langste wat ek en Aiden nog weg was van mekaar sedert sy geboorte. My teorie is dat hy so baie na my verlang het dat hy alles wou doen soos wat ek dit doen.
Toe ek hom uiteindelik Sondagmiddag weer sien, sou mens sweer ons het mekaar jare laas gesien. Hy het die hele middag en aand op my skoot gesit. Ek is ook deur hom opgekommandeer om hom te bad. Ek het selfs by hom gesit tot hy aan die slaap geraak het.
Wel dit is my teorie, hy is nie vol stories nie, hy het net na sy pa verlang.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.