BlogsOpinions

Uit Piet se Pen: My Skepper leef nog

Hy sê dat Oom Bernaas die ding eintlik moes sien kom het. Dis nou die ding tussen die boorman en sy jong vrou.

As ek die storie hoor, dan wonder ek of Piet nie self die boorman was nie, maar hy sê nee. Dis net ‘n storie maar dit is ook so dat Piet wel self geboor het.

En hy vertel die storie daar waar ek en hy en Hennie die stof van die dag afspoel.

Hy sê dat Oom Bernaas die ding eintlik moes sien kom het. Dis nou die ding tussen die boorman en sy jong vrou. Maar Oom Bernaas het agterna gesê dit het vir hom al gelyk of die boormannetjie altyd die lekkerste stukkie vleis kry as hy 12 uur saam met hulle aangesit het.

Maar Oom Bernaas het gesê hy het maar net gedink dit gaan oor goeie gasvryheid en blydskap dat daar ‘n oplossing vir die ou sukkel watertjie daar by die opstal gaan kom.

Piet sê Oom Bernaas het hom maar besig gehou met sy dagtaak, ook nie altyd 12 uur huistoe gekom nie en party aande laterig uit die veld gekom.

Oom Bernaas het agterna vertel dat hy een aand baie laat toe hy van ‘n vendusie af gekom het, hom verbeel het dat hy ‘n gegiggel in die plaasdam by die windpomp gehoor het, maar na hy die trokkie gaan bêre het, die beeskraal nageloop het en water afgeslaan het agter die groot bloekomboom voor hy by die kombuisdeur ingegaan het, was die lamp dood en die huis doodstil.

Hy het gaan voete was en ingekruip, suutjies, want hy wou nie die vrou wakkermaak nie. Hy sê as hy nou terugdink, dan was die vrou darem erg koulik gewees.

Piet sê Oom Bernaas het agterna gesê die boordery vat darem nou baie lank maar die boormannetjie praat van harde rotslae en ‘n gesukkel met beitels en so het hy ‘n verskoning vir elke dag wat hy langer staan en sy porsies vleis word groter en lekkerder.

Piet sê Oom Bernaas sê dat hy dit nog kon aanvaar, maar begin die vrou neul oor beter geriewe in die huis en vakansie hou en sy kla oor hy saans net voete was en so hou sy aan.

Dis toe dat Oom Bernaas hom eintlik heeltemal aan die huis onttrek: hy bring sy dae in die veld deur net om van die ewige gesanik weg te kom.

Piet noem Oom Bernaas sê dat dit so erg gegaan het, dat hy toe hy die dag uit die veld gekom het en van die agterdeur af in die gang afgekyk het en gesien het vrou se soetkysies is agter op die boormannetjie se trokkie daar voor die voordeur, hy net gesê het:

“Dankie, my Skepper leef nog”

Related Articles

 
Back to top button