SportSport

Hierdie Potchefstromers eet, praat en slaap die Bergfietskultuur

Die rustige atmosfeer van die Noordwes platteland met sy vlaktes en ietwat sterk briesie begroet ’n groepie bergfietsryers op ’n Saterdagoggend. In hulle kleurryke fietsryklere maak hulle gereed om nog ’n langafstand af te lê op een van die baie roetes wat hulle weekliks ry in hierdie omgewing. Fietse se bande is gepomp, waterbottels is …

Die rustige atmosfeer van die Noordwes platteland met sy vlaktes en ietwat sterk briesie begroet ’n groepie bergfietsryers op ’n Saterdagoggend.

In hulle kleurryke fietsryklere maak hulle gereed om nog ’n langafstand af te lê op een van die baie roetes wat hulle weekliks ry in hierdie omgewing.

Fietse se bande is gepomp, waterbottels is vol en die belangrikste is dat hulle valhelms op is.

Potchefstroom se vernaamste bergfietsrygroep het sedert 2011 stelselmatig in ’n fietsryfamilie ontwikkel, met omtrent 15 mense wat gereeld in ’n groep oefen en saam ry ter voorbereiding van wedrenne of altans vir die plesier van die rit.

Wynand Fourie, sy vrou Jacolien en hul dogter Chanté het ernstig begin bergfietsry nadat Chanté weens ’n kniebesering tussen swem of fietsry moes kies om haar te help herstel.

“Ek het nie baie van fietsry af geweet nie, maar dit het later vir my baie lekker geword. My pa het ook toe saam begin ry en so het dit ’n goeie gewoonte geword,” vertel Chanté wat in die skolereeks al as beste fietsryer by Volkies aangewys is.

“Vir my was dit ’n aan- en af-ding, maar ons het eers weer gereeld begin ry ’n paar jaar gelede. Dit is regtig een van die lekkerste goed om te doen, omdat ‘n mens tyd kry om af te skakel en ons land se natuurskoon te geniet. Jy sien goed op ’n roete wat ’n mens in die alledaagse lewe miskyk,” sê Wynand.

Jacolien neem ook gereeld foto’s van al die wedrenne waaraan hulle deelneem, asook die oefenritte en plaas hierdie foto’s en ander bykomende wedren inligting op die Mountain Bikers Potchefstroom Facebookblad. Hulle jongste dogter Ansuné (6) ry ook bergfiets saam met die groep, maar kan nie langer as een uur lank ry voordat sy effens moeg word nie. Steeds kap sy dit uit en is sterk op pad om in haar sussie se voetspore te volg.

Ander plaaslike bergfietsryers wat ook naam maak in kompetisies is Quintus Oberholzer en sy suster Juanita, wat gereeld in die groep saamry. Die groepe is oop vir enige bergfietsryer wat wil saamry, maar word gewaarsku dat dit nie altyd speletjies is nie. Dit kan soms nogal uitputtend raak wanneer daar meer as 100 kilometer op ’n rit uitgetrap word. “Dit toets ’n mens, maar naderhand raak ’n mens gewoond daaraan.

Hier is nie baie bulte nie maar die sterk wind maak baie op daarvoor. Ons ry baie keer tot by Telefoonkoppie naby Klerksdorp en dan durf ons daardie een kilometer lang bult uit. Verder ry ons ook baie na die Vredefort Koepel toe en terug,” noem Wynand.

Wynand Fourie
Wynand Fourie

 

Hierdie bergfietsryers ry gewoonlik na ander wedrenne buite Potch, aangesien daar nie baie wedrenne in die gebied plaasvind nie. Rustenburg, Brits Clarens en Kroonstad in die Vrystaat is ook plekke waarheen hulle gereeld ry vir wedrenne. Die Nissan-reeks is een kompetisie waaraan hierdie groep deelneem en is een van die grootste bergfietsreekse in die land.

Volgens Wynand is bergfietsry nie ’n sport waar ’n mens baie gaan presteer nie en moet eerder vir die liefde daarvan gery word. “Bergfietsry het baie voordele. Dit is baie gesond en oefen jou hele liggaam. Die mense is baie nice en daar heers altyd ’n goeie atmosfeer by kompetisies. As die manne ry dan ry hulle, maar na die tyd is hulle weer vriende.”

Kontak Jacolien Fourie by 084 585 5744 vir meer inligting of besoek hul Facebookblad by Mountain Bikers Potchefstroom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button