Gimmies wen klipharde kragmetings in Beeldtrofee kwarteindrondte
Ouers, afrigters en spelers moes verlede Saterdag hare op hulle tande hê tydens verskeie Beeldtrofee kwarteindstryde waar Potchefstroom Gimnasium op onbekende grond gespeel het. Die eerste span en die o.16’s het wel merkwaardige stamina, veggees en konsentrasie getoon en die kwaliteite gebruik om te oorwin en na die semi-finale deur te dring. Gimmies se eerste …
Ouers, afrigters en spelers moes verlede Saterdag hare op hulle tande hê tydens verskeie Beeldtrofee kwarteindstryde waar Potchefstroom Gimnasium op onbekende grond gespeel het.
Die eerste span en die o.16’s het wel merkwaardige stamina, veggees en konsentrasie getoon en die kwaliteite gebruik om te oorwin en na die semi-finale deur te dring.
Gimmies se eerste span het teen Heidelberg Volkies te staan gekom en het gesukkel om op Heidelberg se klipharde veld hulle voete te vind. Die resultaat was ‘n 17-3 agterstand toe die halftyd fluitjie blaas.
In die tweede helfte het daar klaarblyklik ‘n ander span op die veld gedraf met Inus Vermeulen en Bradley Wood wat geskitter het. Albei het ‘n drie gedruk en later is ‘n strafdrie ook aan die Potchefstromers toegeken.
Jaswyn Damon het al drie die drieë verdoel en met twee strafdoele geslaag.Die o.16’s het nog meer spanning op die kantlyn veroorsaak en met ‘n skrale twee punte die knoop teen Hoërskool Transvalia met 18-16 deurgehaak.
Die aksie was vinnig en vloeiend in Vanderbijlpark met Transvalia wat ook verdien het om deur te dring, maar ongelukkig op hul tuisveld uitgeskakel is.

Die o.15’s het teen Hoërskool Oos Moot in die kwarteind met 7-16 verloor, maar kan trots wees op die manier wat hulle die wedstryd gespeel en hulle alles gegee het.
Die eerste span en die o.16’s gaan nou beide teen Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen in die halfeindrondte hierdie Saterdag te staan kom. Ben Vorster speel nog die hele seisoen kookwaterrugby en gaan ‘n moeilike teenstander op hulle tuisgrond wees.
Gimmies kan wel baie positiewes uit verlede naweek se wedstryde neem en seker maak dat hulle vinniger op dreef kom en daardie momentum behou.



