Luiperds oortuig nie ondanks bonuspuntoorwinning
Die Luiperds het weliswaar verlede Saterdag met ‘n bonuspunt teen die SWD Arende gewen, maar die vertoning was allermins oortuigend. Om as voorloper in die liga met net 5 punte teen ‘n span onder aan die punteleer te wen, boesem nie vertroue vir die res van die seisoen in nie.Die Luiperds het 36-31 gewen, na …
Die Luiperds het weliswaar verlede Saterdag met ‘n bonuspunt teen die SWD Arende gewen, maar die vertoning was allermins oortuigend.
Om as voorloper in die liga met net 5 punte teen ‘n span onder aan die punteleer te wen, boesem nie vertroue vir die res van die seisoen in nie.Die Luiperds het 36-31 gewen, na hulle teen rustyd al in die knyp was.
Hulle het gaan water drink met ‘n een punt agterstand: 15-16.Die voorspelers het goed vertoon en moes om punte op die telbord te kry, terugval op rolmaalbewegings na lynstane.
Hulle het vyf drieë so gedruk – drie deur die kookwaterkaptein, Juan Language, en twee deur John Roy Jenkinson. Dié bul word nie sommer op pad doellyn toe gestuit nie.Agterlangs het dit maar sukkel-sukkel gegaan.
Johnny Welthagen kon net nie die agterlyn aan die gang kry nie en sy lynskoppe wou ook nie altyd werk nie. Dit was of daar meer ritme in die agterlyn was met Hanco Venter op skrumskakel en Warren Gilbert op losskakel. Rhyno Smith het bitter min kanse gekry om sy aanvallende talent ten toon te stel. Wat van hom op losskakel?
Meel Engelbrecht se skopvoet was in die kol en hy het met net twee van ses pogings misluk. Hy slaag met vier doelskoppe en Smith het ‘n vinnige skepdoel deur die pale gejaag.Saterdag is dit Boland in Wellington en Boland sal wil vergoed vir die vernietigende nederlaag (62-24) wat hulle teen die Griffons gely het.
In die ander wedstryd het die Valke vir Grens met 48-27 geklop. Op die punteleer het die Luiperds 30, die Valke 18, die Griffons 16 en Boland 13. Die Arende het 9 en Grens 6.
*Die Blou Bulle se juniorspanne was Saterdag heeltemal te sterk vir die Junior Luiperds. Die o.19’s het 61-31 verloor. Die o.21’s het moedig probeer en tot by 33 elk gevorder, maar toe draai die Bloues die krane oop en wen 55-33. Hulle speel die naweek teen WP op Nuweland.















