Afrika T20 beker gaan skouspelagtige krieket op Senwespark lewer
Senwespark is van Vrydag tot Sondag die tuiste van die B-poel van die nuwe Afrika T20 bekerkompetisie. Daar neem 13 Suid-Afrikaanse semi-professionele spanne en spanne van Namibië, Kenia en Zimbabwe aan die toernooi deel. Die sestien spanne is in vier afdelings verdeel, met vier spanne elk. Die afdelings speel op afsonderlike naweke teen mekaar, waarna …
Senwespark is van Vrydag tot Sondag die tuiste van die B-poel van die nuwe Afrika T20 bekerkompetisie.
Daar neem 13 Suid-Afrikaanse semi-professionele spanne en spanne van Namibië, Kenia en Zimbabwe aan die toernooi deel. Die sestien spanne is in vier afdelings verdeel, met vier spanne elk.
Die afdelings speel op afsonderlike naweke teen mekaar, waarna die vier wenners in die halfeindstryde sal speel met ‘n eindstryd. Die velde vir die wedstryde sal deur die onderskeie wenners bepaal word.
Die eerste groep het verlede naweek in Benoni gespeel en Noordelikes was die wenners. Hierdie naweek speel Noordwes, KwaZulu-Natal Binneland, Grens en Boland.
Volgende naweek is die aksie in Kimberley en Griekwas, Namibië, KZN en OP meet daar kragte. Die laaste afdeling speel die naweek daarna in Bloemfontein met die deelnemers: Vrystaat, SWD, Gauteng en Kenia.Die dertien SA spanne het sterk keuringsvereistes: Net vier spelers wat al vir die konsessiespanne gespeel het en een speler met nasionale ervaring mag gekies word. Daarby moet daar ten minste twee o.21 spelers in die groep wees.
Ses spelers van kleur, van wie drie etniese swart spelers moet wees, voltooi die groep. Die doel met die vereistes is om die ontwikkeling van krieket onder alle bevolkingsgroepe te stimuleer. Noordwes span hulle nasionale draaibalbouler, Aaron Phangiso in.
Ander Proteas wat ook op Senwespark hierdie naweek te sien sal wees, is Hashim Amla, Justin Ontong en Robin Peterson (Boland) sowel as Vaughn van Jaarsveld en Kyle Abbott (KZN Binneland.)
Toegang vir die fees van opwindende T20 krieket is R20 vir volwassenes en R10 vir kinders. Die Noordwes Drake open die verrigtinge Vrydagaand om 18:00 teen KZN Binneland. Saterdag is daar drie wedstryde van 09:30 af. Sondag begin die spel om 10:00 met die gasheer wat in die laaste wedstryd om 13:30 teen Boland sal speel.
Die Noordwes-span lyk so:Grant Mokoena, Rassie van der Dussen,Wihan Lubbe, Niel Bredenkamp Nicky van den Bergh, Dwaine Pretorius, Bjorn Fortuin, Aaron Phangiso, Brady Barends, Johannes Diseko, Julian Soutter, Janneman Malan en Vusumuzi Mazibuko
Afrigter: Monty Jacobs.
Wedstryde
Vrydag: 18:00 – Noordwes Drake t. KZN Binneland
Saterdag: 9:30 – KZN Binneland t. Boland 13:00 – Noordwes Drake t. Grens16:30 – Boland t. Grens
Sondag: 10:00 – Grens t. KZN Binneland 13:30 – Noordwes Drake t. Boland



