Luiperds maak groot skuiwe as Eersteliga Kampioene
En daar moes die spinnekoppe maar pad vat en die trofeekas ontruim, want daar staan vir die eerste keer ‘n Raadskompetisie-trofee in die kas sedert die Mielieboere die Luiperds geword het. Die vreugde was groot en dit was ‘n gepaste afskeidsgeskenk aan afrigter Robert du Preez, wat op 1 November by die Sharks gaan inval. …
En daar moes die spinnekoppe maar pad vat en die trofeekas ontruim, want daar staan vir die eerste keer ‘n Raadskompetisie-trofee in die kas sedert die Mielieboere die Luiperds geword het. Die vreugde was groot en dit was ‘n gepaste afskeidsgeskenk aan afrigter Robert du Preez, wat op 1 November by die Sharks gaan inval.
Volgens die president van Luiperdrugby, André May, sal die soektog vir ‘n nuwe afrigter in samewerking van die NWU gedoen word, aangesien Du Preez ook die Pukke se Varsity Cup-span afgerig het.May het ook aangekondig dat die gesoute rugbyman, Andries de Kock, sal waarneem as hoof uitvoerende beampte.
De Kock was lank betrokke by die Impala Rugbyklub en het ook in die direksie van Luiperdrugby gedien.
Die eindstryd teen die Arende was alles behalwe maklik. Die Arende het Potchefstroom toe gekom om te wen en met die rustydtelling op 20-10 in hulle guns het dit gelyk of hulle dit dalk kan regkry.Robert du Preez het die sweep gaan klap gedurende rustyd en toe het die Luiperdmasjien ingeskop om die besoekers voos te rolmaal en te dryf. Dit was nie aanskoulike rugby nie, maar wel wenrugby en dit is tog waaroor ‘n eindstryd gaan. Die Arende se telling het op rustyd se 20 vasgesteek, terwyl die Luiperds 34 punte bygevoeg het om die wedstryd 44-20 te wen.Volgende seisoen verval die Vodacomreeks en word die Curriebeker deur agtien spanne betwis.
Die eerste ronde sal weliswaar sonder die Superspelers moet klaarkom aangesien dié reeks dan ook aan die gang is. Die nuwe bedeling beteken dat spanne soos die Leeus, die Blou Bulle, die Haaie en al die ander groot kanonne ‘n draai op Olënpark sal maak. Dit behoort die toeskouers weer terug te lok na dié tradisieryke stadion.



