Prinsloo stuur Volkies na Finsbury A-liga
Hoër Volkskool Potchefstroom se eerstespan is weer in die Finsbury A-liga nadat hulle op Saterdag, 27 Februarie vir Hoërskool Dr. E.G. Jansen met drie paaltjies in ‘n senutergende promosie/relegasiestryd op E.G. Jansen se velde geklop het. Nuwe helde het hulle hand vir Volkies opgesteek met Herman Prinsloo (80 van 56 balle) en Awie Visser (3/41) …
Hoër Volkskool Potchefstroom se eerstespan is weer in die Finsbury A-liga nadat hulle op Saterdag, 27 Februarie vir Hoërskool Dr. E.G. Jansen met drie paaltjies in ‘n senutergende promosie/relegasiestryd op E.G. Jansen se velde geklop het.
Nuwe helde het hulle hand vir Volkies opgesteek met Herman Prinsloo (80 van 56 balle) en Awie Visser (3/41) wat grootliks verantwoordelik was vir Volkies se oorwinning. Prinsloo het 9 viere en ‘n ses geslaan, maar ook gedurig lopies ingesamel om by die lopietempo te hou en die groottotaal van 277 te haal. Volkies het die oorwinning beklink toe Waldo Kotze die wenlopies met ‘n triomfantlike ses gemoker het.
Vroeër het E.G Jansen eerste gekolf en 276/8 gemaak na 50 boulbeurte. Vir die tuisspan het kaptein Diaan Basson (47) en Arni Enslin (53) die beste gekolf en seker gemaak dat hulle ‘n kompeterende telling bymekaarsit.
André Taljaard met 2/38 en Cobus Crowther met 1/38 was Volkskool se mees ekonomiese boulers en het met draaiballe verseker dat lopies moeilik gekry word. Dylan Meyer se 41 van 23 balle het wel ‘n nodige hupstoot vir E.G. Jansen aan die stertkant van hul beurt besorg, met ‘n paar belangrike sesse.
Volkies kon nie van ‘n swakker begin met die kolf gedroom het nie en na 6 boulbeurte was hulle 19/3 met Vincent Viljoen, David Crowther en Ruan von Abo terug op die pawiljoen. Paaltjiewagter, Martin Fourie (51) en Cobus Crowther (58) het goed teruggeveg met ‘n 69 lopie vennootskap, waarna Crowther en WL Fourie ook nog ‘n goeie 63 vennootskap bygevoeg het.
Toe Enslin van Crowther met die telling op 155 ontslae raak, was E.G. Jansen weer in die wedstryd gewees – of so het hulle gedink. Nietemin het hulle nie geweet dat Prinsloo een van die kolfbeurte van sy lewe sou speel nie. Prinsloo moes behoorlik kopgehou het nadat die gewone staatmakers soos Crowther, Von Abo en Viljoen met die kolf gefaal het.
Prinsloo het saam met Jacques Bouwer en Kotze stelselmatig nader aan die wentotaal gekom met slim en kalm krieket waar Prinsloo meeste van die balle trotseer het en enige geleentheid vir ‘n grenshou gegryp het.
In die laaste vennootskap van 53 lopies met Kotze het Prinsloo die lang steel ingelê en was vir 37 blitsvinnige lopies verantwoordelik.
Dit was broodnodig, want Volkies het die titaniese stryd met slegs 7 balle oor gewen. Volkskool se eerstespan afrigter, Andries Huisamen, meen dat hierdie vertoning die deurdringingsvermoë en selfvertroue van sy onoorwonne span wys. “Ek was baie trots op die karakter en kalmte wat die outjies gewys het. Dit is iets wat ons al ‘n rukkie voor vra. Ons was 18/3 en net ‘n span met karakter jaag 277 van daardie posisie af,” het hy gesê.



