Hotrods laat ‘n man se hart vinniger klop
“Hotrods is enige man se begeerte. Dit gaan alles oor spoed en dit hou ons uit die spietkop se hande uit.” So begin Willie Saaiman, ’n bekende motorwerktuigkundige en hotrod entoesias in Potchefstroom, wanneer hy die wêreld van hotrods aan Potchefstroom Herald verduidelik. “Ek was ses jaar oud toe ek begin ry het as gevolg …

“Hotrods is enige man se begeerte. Dit gaan alles oor spoed en dit hou ons uit die spietkop se hande uit.”
So begin Willie Saaiman, ’n bekende motorwerktuigkundige en hotrod entoesias in Potchefstroom, wanneer hy die wêreld van hotrods aan Potchefstroom Herald verduidelik. “Ek was ses jaar oud toe ek begin ry het as gevolg van my pa se betrokkenheid by die sport. So dit is al ’n lang familiegeskiedenis wat steeds voortleef.”
“Ons het begin met pypkarre in Springville, in Stilfontein,” sê Willie. Toe het hulle nog met V8 pypkarre gery. Ek het toe in Vereeniging begin ry en dit is waar die gogga my begin byt het.”
So het Willie in die verskillende klasse opgegaan waar hy saam met klomp vriende gery het wat hy in sy jare as renjaer ontmoet het.
Hotrods is ’n kar wat op “slicks” is maar ’n mens kry ook verskillende hotrod-klasse, ten opsigte van die enjingrootte, model en doel van die motor.
Verskillende klasse:
By ’n standaard kar haal jy die ruite uit en maak dit gereed vir ’n wedren. Dit is die beste klas om in te kom. Ander klasse sluit in:
- 1600
- 1660
- 2000
- 2.100
- Hotrods met rotaries
- Midgets
- Ninja midgets
- Super midgets
- Super Saloons
- V8 sprints
- 100cc karts
- 125 cc karts
Die wedren se lengte word bepaal deur die aantal karre plus twee rondtes. Dit wil sê as jy 28 karre op die baan het, is daar dan 30 rondtes. Dan is dit besig,” vertel hy.
Willie noem ook dat daar voor die meeste groot wedrenne ’n kwalifiserende rondte is waar die motors dan hulle plek op die baan bepaal.
Die tameletjie kom dan in die tweede wedren van die byeenkoms waar daar dan ’n omgekeerde wedren gedoen word.
Die motor wat laaste gekwalifiseer het, begin nou voor.
“Die beste renjaers moet dan deur die mengelmoes kom en dit is so vinnig dan is iemand op jou. ’n Mens moet baie erg konsentreer omdat een fout jou ’n klomp plekke kan kos. ’n Mens moet nie te aggressief wees nie,” meen Willie.
‘n Topspoed van omtrent 160 kilometer per uur kan behaal word.
Bane wat tans hoog aangeskrewe is vir hotrods:
Vereeniging, ’n mooi skoon baan met goeie fasiliteite. The Rock Raceway, Richardsbaai, die Klerksdorp Oval en Wembley, een van die klassieke bane in ons land. Verskillende bane het ook verskillende klasse
“Om te begin is dit die beste om ’n stock standaard kar te kry en daar te begin.
Van daar kan hy homself opwerk in die verskillende klasse in.” Dit is duur, maar dit is beslis die opoffering werd.
Hotrods is familie:
“Motorsport is gevaarlik maar ons lewe daarvoor. Ek ry al 49 jaar en is nogsteeds betrokke, veral nou dat my kind ook presteer. Ek is nog ’n vlagman en doen allerhande dinge by byeenkomste,” vertel Willie.
Volgens Willie is die hele hotrod tradisie gefokus op familiewaardes en gesonde kompetisie.
“Na en voor die wedrenne kuier ons baie lekker.
Elke persoon het sy spesifieke plek by die baan waar hy kan ontspan en die wedrenne kan geniet.
Wedrenne begin gewoonlik van so 18:00 af en hou aan tot omtrent so 22:00 tot 23:00, afhangende van ongelukke wat kan plaasvind.
“Dit is ’n hele program by so ’n byeenkoms waar al die klasse kompeteer en plekke kry.
“Die grootste en vinnigste hotrods ry gewoonlik heel laaste. Dit is werklik iets om die karre met daardie spoed te sien beweeg,” sê Willie.



