Volkskool wen modderbadstryd teen Lichtenburg
Dit moes soos Déjà-vu vir Hoërskool Lichtenburg gevoel het verlede Saterdag, 14 Mei, toe hulle vir die tweede week in ’n ry met een punt teen ’n Potchefstroomse hoërskool verloor het. Na die 31-30 verloor teen Gimmies twee naweke gelede het hulle nou 19-18 teen Hoër Volkskool Potchefstroom in ’n eerstespan rugbykragmeting in die Noordwesliga …

Dit moes soos Déjà-vu vir Hoërskool Lichtenburg gevoel het verlede Saterdag, 14 Mei, toe hulle vir die tweede week in ’n ry met een punt teen ’n Potchefstroomse hoërskool verloor het.
Na die 31-30 verloor teen Gimmies twee naweke gelede het hulle nou 19-18 teen Hoër Volkskool Potchefstroom in ’n eerstespan rugbykragmeting in die Noordwesliga op Volkskool se velde verloor.
Volkies aan die ander kant sal alte bly wees dat hulle die Pukreeks-kampioene getroef het. ’n Wen bly ’n wen, maak nie saak met hoeveel punte daar gewen word nie. Die weer het glad nie saamgespeel toe hierdie spanne hulle wedstryd begin nie, met koue reën wat die spelers se hanteringsvermoë grootliks beïnvloed het. Die bal was soos ’n stuk seep en die veld ’n modderbad – amper soos iets wat ’n mens in ’n Engelse rugbystryd tussen Saracens en Bath sou aanskou.
Nietemin, moes die spel voortgaan en krediet moet aan beide spanne vir hulle deursettingsvermoë en karakter gegee word. Volkies se Duardt Snyman, Lukie Pieterse en Jandré Olivier het die drieë gedruk terwyl Hanru van Rooyen se skopvoet twee doelskoppe oorgeklits het. Liggies het danksy Henco Nel en Henk Venter se drieë nooit tou opgegee nie. Die indrukwekkende Mauritz Kotze het ook met een doelskop en twee strafdoele geslaag.
Hoër Volkskool se rugby uitslae teen Lichtenburg:
1ste span wen 19-18
2de span wen 21-17
o.16 A wen 34-0
o.15A wen 17-8
o.14 A verloor 27-0
Hier is nog foto’s van die eerstespan en o.16A-span se wedstryde: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/15067/volkies-byt-vas-en-oorwin-vir-lichtenburg/



