Classic Clash: Laat die sportoorlog begin!
Die spreekwoordelike gewere is gelaai, die strategieë is fyn beplan en die skoolkrete is uit volle bors gesing. Elke skool stroom in hulle hordes na die oorlogsvelde van die Fanie du Toit Sportgronde met optimisme en trots in hulle harte. Personeel, ouers, ondersteuners en nuuskieriges maak seker dat hulle die stryd met ’n fyn oog …
Die spreekwoordelike gewere is gelaai, die strategieë is fyn beplan en die skoolkrete is uit volle bors gesing.
Elke skool stroom in hulle hordes na die oorlogsvelde van die Fanie du Toit Sportgronde met optimisme en trots in hulle harte. Personeel, ouers, ondersteuners en nuuskieriges maak seker dat hulle die stryd met ’n fyn oog dophou. Die opbou en afwagting is intens, met Potchefstroom wat weer tot stilstand kom wanneer Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom mekaar hierdie naweek in die 2016 FNB Classic Clash die stryd aansê.
Die tradisionele teenstanders gaan mekaar in rugby, netbal, dogtershokkie en seunshokkie aanvat met elke span wat graag wil sê dat hulle Gimmies of Volkies geklop het.
Rugby:
Die twee eerste rugbyspanne wil egter hierdie wedstryd die graagste wen. Dit is die vlagskipwedstryd, die groot een waaroor almal die week daarna gaan praat. Hierdie wedstryd bring altyd die beste uit albei skole uit.
Die afgelope vier jaar is Gimmies die wenners van die FNB Classic Clash en het verlede jaar met 33-3 koning gekraai. Die situasie is wel nou baie anders met albei spanne wat tot dusver in die Noordwesliga goeie resultate lewer. Albei spanne lyk ewe sterk en dit behoort in ’n riller van ’n wedstryd te ontaard.
Volkies sal bitter graag ’n oorwinning wil behaal hierdie jaar en Gimmies se houvas wil breek. Hulle sal op Hardus Pretorius steun wat tot dusver al agt drieë gedruk het, sowel as Hanru van Rooyen se akkurate skopvoet en balverspreiding op losskakel.
Volkies se slot, Lukie Pieterse is ook op goeie vorm en sy stryd teen Gimmies se Juan Smith sal iets wees om tydens lynstaantyd dop te hou.
Gimmies se ervare Edwin Schoeman, speel vanjaar sy derde Classic Clash en sal ook sy stempel in sy laaste een wil afdruk. Gimmies se losvoorspelers kan ook ’n beduidende impak hê met kaptein en agtsteman Martin Linde en flank, Christoff Müller wat teen Volkies se flank, Ruan von Abo en klipharde agtsteman Jandré Steyn te staan kom.
Volkies sal Gimmies se skrumskakel, JM du Plooy mooi moet dophou. Soortgelyk sal Gimmies oor Volkies se blitsvleuels, Jandré Olivier en Johann Glover, ‘n ogie moet hou.
Netbal:
Op Gimmies se netbalbane gaan dinge ook vuur en vlam wees waar albei skole se eerstespanne bitter graag ‘n oorwinning sal wil behaal. Volkies se eerstespan het tot dusver ‘n baie sterk seisoen gehad en is die Pukreekskampioene. Gimmies het wel die algehele titel gevat. Gimmies kan op kaptein, Morgan Olën en Christina Eloff staatmaak, terwyl Volkies se Nine Brits, Larissa Gouws en Melindi Delport ook ‘n groot impak kan maak. Hierdie wedstryd gaan ’n taai een wees met ’n klein punteverskil. Verwag baie spanning, luide toejuiging en ‘n naelbyt laaste paar minute met hierdie een.
Dogtershokkie:
In die dogtershokkie wedstryde wat Vrydag by die NWU Pukke se Astroturf gaan plaasvind, gaan dié spelers se spel waarskynlik net so helder soos die spreiligte skyn. Gimmies is die gunsteling nadat hulle die Pukreeks verower het, maar ‘n mens kan ook nie Volkies se span onderskat nie. Heili Potgieter, Lize Mari de Lange en Suzette Schulenberg speel kookwaterhokkie en kan ‘n groot verskil maak. Gimmies se Suma van Wyk, die Huysamen-sussies (Mignon en Minique) en Devon Pottas is ook aan die brand op die hokkieveld. Hou maar gerus ‘n ogie oor dié spelers.
Seunshokkie:
Die seunshokkiewedstryd behoort Gimmies se sterk seunshokkiespan te wen. Veral as ‘n mens na vorige uitslae tussen die twee spanne kyk toe Gimmies met 10-0 vanjaar geseëvier het. Onder Stefan Coertzen se afrigting lyk hulle of hulle met elke wedstryd verbeter. Kaptein, Pierre Botma, is Gimmies se top speler en leier met Landré Halgryn wat ook uitblink. Volkies se Ryan de Jongh en sy troepe sal hulle beste wedstryd tot dusver vanjaar moet lewer, maar met ‘n
Classic Clash weet ’n mens nooit. Verwag dat David Crowther en Herman Prinsloo ‘n impak sal maak as die bal na hulle kant toe rol.
Hier is ‘n videovoorsmaak van die groot rugbystryd: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/gimmies-vs-volkies-classic-clash-2016/



