Jomo Cosmos Sokkerakademie nie ten koste van Potch Dorp Rugbyklub
Potchefstroom word gekenmerk as die sporthoofstad van die Noordwes, maar sonder ‘n groot sokkerklub sal die ekonomiese potensiaal van sport nie werklik ontgin word nie. Dit is om hierdie rede dat die vestiging van die professionele sokkerklub, Jomo Cosmos se sokkerakademie, ‘n kritieke aspek rondom sokkerbevordering in Potch en die groter Noordwes-area is. So glo …

Potchefstroom word gekenmerk as die sporthoofstad van die Noordwes, maar sonder ‘n groot sokkerklub sal die ekonomiese potensiaal van sport nie werklik ontgin word nie. Dit is om hierdie rede dat die vestiging van die professionele sokkerklub, Jomo Cosmos se sokkerakademie, ‘n kritieke aspek rondom sokkerbevordering in Potch en die groter Noordwes-area is.
So glo Louis du Plessis, hoofuitvoerende bestuurder (HUB) van Jomo Cosmos, nadat daar verlede week ontbloot is dat dié sokkerakademie op Potch Dorp Rugbyklub se velde gestig sal word.
“Daar is baie emosie betrokke en dit is te verstane, met Potch Dorp se geskiedenis. Ons is nie anti-rugby nie en wil nie een sportsoort ten koste van ‘n ander bevoordeel nie. Dit maak op hierdie stadium sin om te herprioritiseer sodat elkeen se behoeftes nagekom kan word. Potch Dorp Rugbyklub en die sokkerakademie kan steeds dieselfde grond en fasiliteite gebruik,” sê hy.
Nog ‘n aspek waaroor Du Plessis, wat voorheen die HUB van die Luiperdsrugbyunie was, uitgewy het, is dat Olënpark ook deur die stadsraad opgradeer wil word en dat dit juis voordelig vir Cosmos en hul sokkerakademie sal wees.
Daar is huidiglik besprekings met die stadsraad om die geriewe vir die volgende paar seisoene te gebruik en hulle klub in Noordwes te vestig.
“Ons as Jomo Cosmos moet na die stadsraad toe kan gaan en noem dat ons sekere fasiliteite nodig het om ‘n volledige skuif na Potchefstroom te maak. Die akademie is reeds die begin hiervan,” verwys Du Plessis na die feit dat Cosmos tans gedeeltelik in Johannesburg gebaseer is.
“Daar is byvoorbeeld o.13, o.15, o.17 en B-spanne wat deel van die akademie moet wees en ‘n voorvereiste vir ‘n professionele klub is.
“Die spanne van die akademie speel in die SAFA-amateurliga en dit is waar die sokkerspelers van die toekoms ontgin word.
“Ons gedagte is ook om Jomo Sono sokkerskole in vier streke van die provinsie te begin waar die beste spelers dan vir die akademie gekies word,” noem hy.
Volgens Du Plessis moet rugbyondersteuners nie sokker as ‘n bedreiging sien nie, maar eerder as ‘n geleentheid om bande te smee.
“Die bestuursmodel gaan moet verander en die fasiliteite gaan baie beter so aangewend word. Sokker is doodeenvoudig ‘n groter sport in ons land en kan groot status vir ons stad beteken.”
Volgens die voorsitter van Potch Dorp Rugbyklub, Jan Janse van Rensburg, is daar teen druktyd nog nie met die stadsraad oor die kwessie vergader nie. Daar behoort teen volgende maand ‘n vergadering plaas te vind. Tot dan kan Potch Dorp nog die velde gebruik.
Die bestuur van die klub is wel steeds positief en meen dat die klub se tradisieryke kultuur sal voortleef, ongeag die stadsraad en Cosmos se plan met dié sokkerakademie.
Lees meer hier oor die vorige week se berig: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/16216/tradisieryke-potch-dorp-rugbyklub-kry-nog-nie-trekpas/



