SportSport

Karate-legende kry sesde swartbelt

As ’n mens in Potchefstroom van karate praat, dan is dit heel waarskynlik dat Johan van Tonder se naam in dieselfde asem genoem sal word. Van Tonder is reeds vir 30 jaar by die PUK as hoofkarateafrigter betrokke en is in hierdie tydperk meer as goud werd. Die Pukke is al die afgelope 16 jaar …

As ’n mens in Potchefstroom van karate praat, dan is dit heel waarskynlik dat Johan van Tonder se naam in dieselfde asem genoem sal word.

Van Tonder is reeds vir 30 jaar by die PUK as hoofkarateafrigter betrokke en is in hierdie tydperk meer as goud werd. Die Pukke is al die afgelope 16 jaar die USSA kampioen in karate en daar is verseker geen ander sport wat dit al by die universiteite-toernooi behaal het nie.

“Toe ek begin het, was ons heel laaste gewees. Elke jaar het ons trappe geklim totdat ons uiteindelik in 2000 die eerste plek behaal het. Dit is vir my baie belangrik dat ons span goed saamwerk en daardie deursettingsvermoë het,” vertel hy.

Elke jaar kry Van Tonder nuwe studente. Dit verg harde werk om hulle op te bou sodat hulle bo uitkom.

“Ek gee my beste en dit hang van die student ook af om hard te werk en die vermoë te hê om aan te hou en skouer aan die wiel te sit.”

Van Tonder was ook die afgelope drie jaar die voorsitter van Noordwes Karate, waar hy die provinsie van die grond af opgetel het en in een van die land se top karate provinsies verander het.

“Ons het verlede jaar 11 Proteas opgelewer, wat ’n briljante prestasie was. Ons kon ook verlede jaar die nasionale SA senior karate toernooi in Potchefstroom  aanbied. Twee van my studente is ook opgeneem in die Proteaspan,” noem hy trots.

Al hierdie dinge sou nie gebeur het as sy pa hom nie 46 jaar gelede aan die gevegskuns bekendgestel het nie.

“My bekendstelling met karate het in 1970 begin toe my pa, wat in die kommando was, ’n karatekursus as ’n recce moes doen. Ek het toe meer betrokke geraak en toe ek by my groen belt was, het Koos Pretorius wat ons gradering gedoen het, my potensiaal raakgesien en my onder sy vlerk geneem. Dit is waar my liefde begin blom het,” vertel Van Tonder.

Op 15-jarige ouderdom was hy reeds die SA karatekampioen en het op dieselfde ouderdom ook sy eerste Dan gekry. Van Tonder het verder ook nie op hom laat wag nie en sy talent vir afrigting reeds op die broeis ouderdom van 16 aangepak.

“Een van die trotsste oomblikke van my afrigtingsloopbaan was toe ek gevra is om die nasionale Proteaspan af te rig in 2007. Ek is eers aangestel as die fiksheidsafrigter en ’n jaar daarna was ek die hoofafrigter.”

Van Tonder het in daardie tydperk baie geleer hoe om met verskillende studente te werk en die beste uit elkeen te bring.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring, veral toe ek as afrigter die span na die Zone 6-titel geneem het. Nog ’n hoogtepunt was toe ons die Statebond Karatekampioenskappe gewen het,” vertel hy verder.

“Met die jare moes ek maar my afrigtingsstyl baie aanpas, aangesien baie studente nie noodwendig so fisiek sterk is nie. Hoofsaaklik gaan karate nog steeds oor daardie self-dissipline en vertroue wat jy tussen student en afrigter het.” Van Tonder rig ook die jonger studente vanaf vyfjarige ouderdom af met ’n program wat hy self geskryf het.

“Ek rig ook ouderdomme van vyf tot 8- en verder af wat in verskillende groepe en graduerings verdeel is.” Vir Van Tonder is Japan na aan die hart en ’n land wat hy geniet het om al in te woon en aan toernooie daar deel te neem. Dit is juis hierdie emmers vol ervaring en dissipline wat gemaak het dat hy in November verlede jaar sy gesogte sesde Dan behaal het. Dit is beslis ’n uitmuntende prestasie vir dié bekroonde karatemeester.

“Ek was vir 13 jaar ’n vyfde Dan gewees, maar in daardie tydperk het daar baie ander dinge gebeur wat my tyd opgeneem het,” vertel hy.

Van hierdie dinge is dit juis afrigting wat Van Tonder terdeë geniet en met hom aan die stuur is Noordwes en Pukke-karate in goeie hande.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button