SportSport

Netbalafrigter se passie is haar troefkaart

Potchefstroom Gimnasium is tans die tweede beste netbalskool in Suid-Afrika, met die o.17A-span wat vir twee jaar in ‘n ry as Suid-Afrika se beste aangewys is. Een van die groot faktore agter hierdie dubbele sukses is niemand anders as hulle netbalafrigter, Marianne Ray nie. Van die staanspoor af kan ‘n mens Ray, onderwyser en o.14 …

Potchefstroom Gimnasium is tans die tweede beste netbalskool in Suid-Afrika, met die o.17A-span wat vir twee jaar in ‘n ry as Suid-Afrika se beste aangewys is.
Een van die groot faktore agter hierdie dubbele sukses is niemand anders as hulle netbalafrigter, Marianne Ray nie.

Van die staanspoor af kan ‘n mens Ray, onderwyser en o.14 en o.17A netbalafrigter by Gimmies, se liefde vir sport en die onderwys met ‘n vinnige kyk deur haar klaskamer sien.
Tussen al die swartbord inskrywings en skoolbanke is daar plakkate, foto’s en aandenkings teen haar klaskamermure wat haar passies in die lewe versinnebeeld – gemaak om klas te gee en sport as hoofopvoedingsmiddel te gebruik.

“My pa is ‘n sportafrigter en het ook skoolgehou, so my talente en liefde vir wat ek nou doen, kom van hom af. Onderwys is ‘n familieding, en my enigste kans om by sport betrokke te bly was om in die onderwys te gaan.”

Ray is al vanaf 2013 by Gimmies en was voorheen by Hoërskool Rustenburg en Grenville High School betrokke, waar sy groot sukses met netbal deur die loop van die jare behaal het.
“Ek het hier by Gimmies aangekom en hierdie wenspan van my geërf toe hulle in graad 8 gekom het. Dit was lekker om daardie rou talent af te rig en te sien tot waar hulle vandag gekom het. Nou, vier jaar later, is hulle SA se beste, wat ‘n ongelooflike suksesstorie van harde werk, passie en vertroue vertel.

“Jy moet ‘n doelwit hê. Ons sukses kom van aanhou. Dit is net vrek harde werk. Die hoofdoel gaan wel om netbal te geniet.”

Hierdie jaar was die druk erger vir Ray, aangesien haar span die vorige jaar ook die SA’s gewen het en meer van haar span verwag is.

“Ek het my o.17 span hierdie jaar baie hard gedruk. Toe het ek met my o.14 span ook net so hard geoefen en toe kom hulle ook tweede op SA’s. Hulle wil om te wen en te oefen is fantasties. Hulle prioriteite is by netbal en dit help my baie. Die meisies is absoluut toegewyd.”

Volgens Ray kom hulle lojaliteit van haar eie voorbeeld af.

“Dit maak nie saak hoe sleg ek voel nie, ek sal daar wees. Ek sit amper my hele lewe opsy vir die netbal. My netbalmeisies weet ek sal net so baie vir hulle doen soos hulle vir my.

“Ons het daardie vertrouensverhouding teenoor mekaar. My eie kinders praat al van my netbalspan as ‘ma se kinders,” sê sy met ‘n glimlag.

Ray noem ook dat netbalspelers goeie balvaardighede en instink vir die spel moet hê. “Dit is vir my belangrik dat die spelers hulle eie spel speel en volgens die wedstrydsituasie speel. Daar is nie ‘n definitiewe spelpatroon nie. So leer hulle ook wanneer om konserwatief of aggressief te speel.”

Dit is duidelik dat daar ‘n hegte band is tussen hierdie afrigter en haar spelers en die kanse is goed dat 2017 ‘n derde SA titel in ‘n ry sal bring.

Gunstelinge saam met Marianne Ray:
Vakansieplek: Bosveld
Boeke: Wilbur Smith
Musiek: Country en boy bands soos Westlife, Boyzone en Romanz. Ek hou van mansstemme.
Kos: Ek is mal oor skaaptjops, ribbetjies, en biltong ook.
Lande: Amerika, was daar saam met ‘n atletiektoer en die grootheid is iets wat my aangeraak het. Die Grand Canyon was ongelooflik om te sien.
Spelers: Irene van Dyk en Erin Burger.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button