Luiperds wil onoorwonne rekord teen Arende behou
Die Luiperds oorheers die Eersteliga van die Curriebeker, ‘n liga wat hulle verlede jaar gewen het. Hul nuutste slagoffer was die Valke. Die Luiperds het die Valke met 42-19 in Kemptonpark geklop na hulle teen rustyd reeds 21-5 voor was. Die Luiperds het ‘n voltal van 20 punte, Grens lê tweede op 12 met die …

Die Luiperds oorheers die Eersteliga van die Curriebeker, ‘n liga wat hulle verlede jaar gewen het. Hul nuutste slagoffer was die Valke. Die Luiperds het die Valke met 42-19 in Kemptonpark geklop na hulle teen rustyd reeds 21-5 voor was.
Die Luiperds het ‘n voltal van 20 punte, Grens lê tweede op 12 met die Griffons wat teruggesak het na die derde plek met 10 punte.
Gene Willemse het sommer binne die eerste 11 minute twee drieë gedruk, beide verdoel deur Johan Deysel. Die telling was na 23 minute reeds 21-0 met die Valke wat eers laat in die tweede helfte die eerste punte aangeteken het.
Die Luiperds se ander driedrukkers was Deysel, wat ook met 5 doelskoppe geslaag het vir ‘n persoonlike bydrae van 15 punte, Adriaan Vermeulen, Bradley Moolman en HP Swart. Na Deysel die veld weens ‘n besering moes verlaat het Johnny Welthagen die laaste drie verdoel.
Saterdag is daar ‘n dag vol rugby op Olënpark. Die aksie begin reeds om 11:30 met die Blou Bulle se o.19 span wat teen die Luiperds o.19’s uitdraf. Die twee unies se o.21-spanne pak mekaar om 13:00 met die ouboet Luiperds wat die SWD Arende om 15:00 die stryd aansê. Toegang vir die rugbyfees is ‘n uiters bekostigbare R20 vir volwassenes en slegs R10 vir kinders.



