Gaan Tukkies hul eerste titel vat of gaan Pukke die dubbel doen?
Tuks of niks. Hierdie is die slagspreuk wat vir Tukkies se netbalspan in die eindstryd teen NWU Pukke hierdie komende Maandag 17 Oktober waar sal word, afhangend of hulle op hulle tuisveld die verdedigende kampioene sal kan klop. As Pukke die oorhand kry, dan sal Tukkies weer met niks in hulle hande sit nie en …

Tuks of niks.
Hierdie is die slagspreuk wat vir Tukkies se netbalspan in die eindstryd teen NWU Pukke hierdie komende Maandag 17 Oktober waar sal word, afhangend of hulle op hulle tuisveld die verdedigende kampioene sal kan klop. As Pukke die oorhand kry, dan sal Tukkies weer met niks in hulle hande sit nie en sal ‘n sover onoorwonne seisoen se harde werk niks beteken nie. Pukke het die eindstryd gehaal met ‘n welverdiende 61-50 oorwinning teen Maties, terwyl Tukkies vir die Madibaz met 87-22 ’n netballes geleer het.
Albei spanne is kop-aan-kop hierdie jaar en het tot dusver briljante aanvallende spel en sterk verdediging getoon. In Pukke se vorige kragmeting teen Tukkies in vanjaar se Varsity Netbalreeks het die Pretorianers met 42-38 gewen. Die vraag is of Jenny van Dyk se Tukkies weer Dorette Badenhorst hulle se nommer sal hê.
Pukke se sterkpunt vanjaar is hulle verdediging waar Zandré Kruger koning kraai, met ‘n klompie Speler van die Wedstryd-toekennings vanjaar. Renske Stoltz is ook weer haar goeie ou self vir die Puk, na ‘n deurbraak seisoen vir die nasionale span.
Tukkies se groot gevaar is Lenize Potgieter sowel as Melissa Kotze met Shadine van der Merwe wat ook altyd met haar verspreiding en visie ‘n groot aandeel in Tukkies se sukses het. Tukkies het ook nog nooit die Varsity Netbaltrofee verower nie en sal beslis op hulle tuisbaan alles gee om die titels uit Pukke se hande te raap.
Chanté Bester, kaptein van NWU Pukke glo dat haar span ‘n hegte eenheid is en as ‘n span saamspeel, wat hulle in staat stel om dubbele trofeevreugde Maandag te behaal.
“Ons gaan hierdie week kyk na wat in die vorige wedstryd teen Tukkies verkeerd gegaan het en fokus om dit reg te maak vir die eindstryd. Spanbou is ook belangrik om die gees hoog te hou. Jy kan ‘n individu klop maar nie ‘n span nie. Ons spangees gaan ‘n groot faktor wees,” verduidelik Bester.
Die wedstryd gaan Maandag vanaf 18:45 regstreeks op Supersport 4 uitgesaai word.



