Volkies en Gimmies vat mekaar in Noordwesliga-eindstryd aan vandag
Skolekrieket gaan weer kook hierdie naweek in Potchefstroom, met beide Hoër Volkskool Potchefstroom en Potchefstroom Gimnasium se o.15 en eerstespanne wat mekaar in die Noordwesfinaal gaan takel. Volkies is beslis die gunsteling om die dubbel teen Gimmies op hulle tuisveld te bewerkstellig met beide o.15 en eerstespanne wat onoorwonne in die liga is tot dusver. …
Skolekrieket gaan weer kook hierdie naweek in Potchefstroom, met beide Hoër Volkskool Potchefstroom en Potchefstroom Gimnasium se o.15 en eerstespanne wat mekaar in die Noordwesfinaal gaan takel.
Volkies is beslis die gunsteling om die dubbel teen Gimmies op hulle tuisveld te bewerkstellig met beide o.15 en eerstespanne wat onoorwonne in die liga is tot dusver.
Volkies se eerstespan spog met spelers soos Louis van Schalkwyk wat ‘n lopiegemiddeld oor die 70 hierdie seisoen handhaaf. Dit was juis sy honderdtal wat Volkies die vorige keer teen Gimmies in hulle ligawedstryd gedra het. So ook moet daar aandag aan die draaibaltrio van Cobus Crowther, André Taljaard en Vincent Viljoen gegee word.
Dit is een van Volkies se sterkpunte en hulle afrigter Andries Huisamen sal hoop dat hulle Gimmies se kolwers sal laat bontstaan.
Gimmies se eerstespan kan ook nie onderskat word nie. Hulle kaptein, Herman de Jong, sowel as hulle wegbreekbouler, Vernon Charslund weet hoe om in druksituasies te presteer en sal ‘n groot rol in Gimmies se kanse vir oorwinning speel.
Hulle openingskolwer, Marco Jansen, is ook gevaarlik met die wilgerlat in sy hand en hierdie lopiemasjien sal graag nog ‘n honderdtal teen die tradisionele teenstanders wil moker. Gimmies is ook tans die huidige kampioene en sal graag hulle titel wil verdedig.
Laasjaar het hulle met ‘n skrale een paaltjie die titel gewen, danksy Jaco Schoeman se heldedaad met die kolf.
Op o.15 vlak het Volkies hierdie jaar behoorlik hulle beste spel nog gelewer en is tans die vierde beste o.15 span in die land volgens die Powerade ranglys. Net King Edward School, Waterkloof en Selborne College is bo dié Potchefstroomse skool.
Van Zyl Smit, Timothy Malan en Jaco Viljoen is maar slegs ‘n paar van die o.15’s se spelers wat nog groot dinge gaan bereik en hulle stempel teen Gimmies sal wil druk.
Albei wedstryde begin om 09:00 by Hoër Volkskool Potchefstroom.



