SportSport

Rudolph vat die grote by Rugbyinstituut se toekenningsaand

Agt-en-’n-half minute. Langer as ‘n ewigheid en dan nog bietjie meer. Daardie aand van 11 April op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch was ‘n euforiese nagmerrie. Ka-dwa-ka-dwa-ka-dwa slaan NWU-Pukke se stormramme teen Jerigo se mure. Tyd is lankal reeds verstreke tog tik die horlosie aan. Marno Redelinghuys bars deur. Rhyno Smith skop deur. Die fluitjie …

Agt-en-’n-half minute. Langer as ‘n ewigheid en dan nog bietjie meer. Daardie aand van 11 April op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch was ‘n euforiese nagmerrie.

Ka-dwa-ka-dwa-ka-dwa slaan NWU-Pukke se stormramme teen Jerigo se mure. Tyd is lankal reeds verstreke tog tik die horlosie aan. Marno Redelinghuys bars deur. Rhyno Smith skop deur. Die fluitjie se skril skree laat Doc in Stellenbosch-begrafplaas omdraai en Bliksem huil vir die maan. Ná agt jaar se probeer tuimel die muur 7-6 in een en van dag een tot geen sal ‘n telling nie weer so mooi lees nie.

Ja, wat ‘n jaar vir die Rugbyinstituut van die Noordwes-Universiteit. ‘n Eerste Varsitybeker-kroon danksy ‘n begeesterde lys vertonings deur Jonathan Mokuena se span, het die hoofopskrifte gehaal, maar in sy geheel het die Rugbyinstituut weer eens gewys waarom dit een van die land se gesogste bestemmings vir opkomende talent is.

Op Woensdagaand 12 Oktober het die Rugbyinstituut hul bestes van die jaar by die NWU se Sport Village vereer en eerstespankaptein Jeandré Rudolph het met die louere as Varsitybeker Speler van die Jaar, asook die Johan Claassen-trofee as die Instituut se Speler van die Jaar weggestap. Onthou julle daardie wegholdrie van hom teen Shimlas? Hy’t gesnol soos een van daai volstruise van sy geboortedorp Oudtshoorn.

Sy verskeie Speler van die Wedstryd-vertonings? Sy leierskap? Belonings so welverdiend soos ‘n koue bier na ‘n dag in ‘n mynskag. Dan is daar die laboratoriumeksperiment wat Rhyno Smith is. ‘n Skopvoet met ‘n ingeboude gelei sisteem, vaartversnelling vinniger as wat ‘n politikus ‘geen kommentaar’ kan sê en ‘n systap saam ‘n swenk wat die Sani-pas jaloers maak.

Dié blits het die Piet Malan-trofee as Agterspeler van die Jaar en die Danie Craven-trofee vir die speler wat die aanskoulikste rugby gespeel het, ingepalm. Daai glibberige generaal Benhard Janse van Rensburg is ook huis toe met twee toekennings. Die SA o.20 losskakel se naam staan op die Bestuurskild-trofee (mees uitsonderlike prestasie van die jaar) en die Direkteurs-trofee (speler wat die meeste vordering gemaak het). Die Voorsitterstrofee vir Voorspeler van die Jaar is aan Mashudu Mafela toegeken. Hy was deurgaans ‘n anker in die skrum en met die bal in die hand, nee jong; vreesaanjaend vir enige teenstander. Gee jou een raai wie as Afrigter van die Jaar aangewys is. Dit begin met ‘n ‘J’…

Ander pryswenners sluit in:

  • André Markgraaf-ftrofee vir die Steinhoff Koshuiswenners: Patria
  • Koshuisspeler van die Jaar: Berto Kleynhans (Patria)
  • Castle-trofee vir mees lojale ondersteuner: Stairs Mhlongo
  • Jimmy Viljoen-trofee vir Klubman van die Jaar: Eshwyn Heyns
  • Toy Dannhauser-trofee vir die persoon wat buite die klub die Instituut die meeste dien: Chris Erasmus
  • Dux Speler van die Jaar: Jaco Jordaan
  • Die o.21-span is die Assupol-ligawenners
  • Gert Smal-trofee vir o.19 Speler van die Jaar: Edmund Rheeder
  • Gerald Bosch-trofee vir o.21 Speler van die Jaar: Walt Steenkamp
  • Visekanselierstoekenning vir mees uitsonderlike gebeurtenis: Marno Redelinghuys (dáái drie)
  • Spelers se Speler van die Jaar: Henko Marais
  • Matt Proudfoot-trofee vir Span van die Jaar: NWU-Puk 1 se Varsitybekerspan
  • Sewes Speler van die Jaar: Eugene Hare.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button