Voormalige voorryman nou voorsitter by Potch Dorp
Daar is ‘n nuwe man in Potchefstroom Dorp Rugbyklub se voorsitterstoel en al is die kussing nog skaars warm, is die verwagtings groot in die klub dat dié voormalige speler en ou bekende die klub van krag tot krag sal stuur. Krag is beslis die regte woord om Frank Redelinghuys te beskryf wat met sy …
Daar is ‘n nuwe man in Potchefstroom Dorp Rugbyklub se voorsitterstoel en al is die kussing nog skaars warm, is die verwagtings groot in die klub dat dié voormalige speler en ou bekende die klub van krag tot krag sal stuur.
Krag is beslis die regte woord om Frank Redelinghuys te beskryf wat met sy stewige figuur onder meer ‘n groot impak op die veld as vasskopstut vir Potch Dorp, Wes-Transvaal, Luiperds en Pukke gemaak het.
Nou wil hierdie voormalige nommer 3 weer Potch Dorp Rugbyklub as nommer 1 prioriteit stel en op die goeie werk van dr. Jan Janse van Rensburg voortbou wat die afgelope jaar uitmuntende werk gedoen het om die klub weer in ‘n mededingende rugbyspan te omskep.
“Ek het in 1993 by Potch Dorp as speler begin en erekleure vir my bydrae tot die span op die veld gekry. Ek het 12 jaar lank rugby gespeel en het verlede jaar weer by Potch Dorp se bestuur betrokke geraak wat vir my ‘n lekker ervaring was. Die voorsitterspos is vir my ‘n groot eer en ek wil seker maak dat ons weer die tradisie en eer wat die klub gehad het, kan hernu,” vertel hy.
Redelinghuys, wat in sy speeldae as “Frank The Tank” bekendgestaan het, glo dat die huidige vennootskap tussen die rugbyklub en die plaaslike munisipaliteit vrugte afwerp.
“Die munisipaliteit gee ons uitstekende bystand en ons is tans op dieselfde bladsy. Groot waardering moet vir die burgemeester, Kgotso Khumalo, en Cyril Henry gegee word vir hulle hulp om Potch Dorp by te staan,” noem Redelinghuys.
Daar was verlede jaar gerugte dat Potch Dorp hulle velde miskien kwyt sou wees met dié dat die sokkerspan, Jomo Cosmos, hulle akademie daar sou begin. Tans blyk dit egter dat beide sokker en rugby gesamentlik die velde kan gebruik.
“Nog ‘n positiewe aspek is dat daar planne is om die rugbyvelde op te gradeer en die fasiliteite vir die opkomende seisoen te verbeter. Saam met hierdie opknappings is die goeie nuus dat Potch Dorp Rugbyklub nou die kroeg ook besit. Voorheen het ons die kroeg verhuur,” sê Redelinghuys.
Volgens hom sal die kroeg voortaan as die Potch Dorp Kroeg bekendstaan, wat hoofsaaklik ‘n plek sal wees waar families, ou Potch Dorp rugbyspelers en die publiek kan kom kuier. “Ons gaan ook die saal aan die agterkant van die gebou vir kongresse omskep. Dit sal net tot voordeel van die rugbyklub wees om weer die breër gemeenskap van Potchefstroom by ons te laat tuis voel,” verduidelik Redelinghuys.
In die toekoms hoop die nuwe voorsitter dat die klub al op laerskoolvlak skolerugby kan bevorder, veral by skole waar rugby nie tradisioneel die sterkste sport is nie en dan ‘n span te skep wat onder die Potch Dorp wapen kan uitdraf.
“Verder wil ons ook seker maak dat baie van ons stad se top hoërskoolspelers nie verlore gaan nie, en hulle by Potch Dorp Rugbyklub betrek. Dit is ‘n jammerte dat baie goeie spelers ophou rugby speel na skool, omdat hulle byvoorbeeld nie by universiteite speelplek kry nie. Spelers moet die geleentheid kry om hul liefde vir rugby by ons klub te kan uitleef,” sê hy.



