SportSport

Volkies se Van Schalkwyk moker 50-tal en vat 6 paaltjies teen Jeppe

Die afgelope naweek, 14 en 15 Januarie, was weer vir Volkies krieket se eerstespan ‘n bedrywige tyd op die krieketveld, toe hulle teen Hoërskool Monument en Jeppe Boys High te staan gekom het. Tog was dit ‘n naweek wat Volkies goed sal onthou, met twee skitterende vertonings. Teen Monument het Volkies ‘n gemaklike 8 paaltjie-oorwinning …

Die afgelope naweek, 14 en 15 Januarie, was weer vir Volkies krieket se eerstespan ‘n bedrywige tyd op die krieketveld, toe hulle teen Hoërskool Monument en Jeppe Boys High te staan gekom het.

Tog was dit ‘n naweek wat Volkies goed sal onthou, met twee skitterende vertonings. Teen Monument het Volkies ‘n gemaklike 8 paaltjie-oorwinning behaal om hulle Finsbury A-liga veldtog op die beste manier moontlik te begin. Teen Jeppe Boys High, wat vier Lions Cubs spelers in hulle kragtige span het, het Volkies ook bewys dat hulle nie bang vir groot name is nie en met 34 lopies gewen.

In die eerste wedstryd teen Monument het Volkies eerste geboul en Monument vir ‘n skamele 92 uitgeboender. Die manne van Krugersdorp het geen antwoord vir Volkies se draaiers, Louis van Schalkwyk (3/14) en Cobus Crowther (4/17) gehad nie. Van Zyl Smit (2/13) het ook met sy wegbreekballe probleme veroorsaak en bewys dat hy gemaklik die skuif van o.15 na die eerstespan maak.

Volkies se kolwers het toe seker gemaak en stadig, maar seker die wenteiken van 93 lopies behaal met Vincent Viljoen (47*) wat die kolfbeurt vir sy span geanker het.

In die wedstryd die volgende oggend teen Jeppe moes Volkies weer gefokus bly in ‘n wedstryd wat die boulers gedomineer het. Volkies kolf eerste en teken 190/9 in hulle 50 boulbeurte aan. Awie Visser se 54* (50) en Louis van Schalkwyk se 51 (91) help hulle span uit ‘n noodsituasie uit. Dit was juis Van Schalkwyk se koelkop en Visser se bravade aan die einde van die kolfbeurt wat op beide tye broodnodig was.

Jeppe sou dink dat dié teiken nie te moeilik is om te haal nie, maar hulle het nog nie Witrand se ‘gasvryheid’ ervaar nie. Die kolfblad gepaard met Van Schalkwyk en Crowther se boulvermoë was een te veel vir die Jeppe-seuns en hul moes stert tussen die bene huiswaarts keer. Van Schalkwyk behaal ‘n ongelooflike 6/20 met Crowther wat 2/29 ook uithelp. Laasgenoemde het ook ‘n uithardloop bewerkstellig om die Volkievure behoorlik te laat brand.

* Komende Saterdag 21 Januarie, speel Volkies se eerstespan weer tuis, hierdie keer teen Menlopark van Pretoria. Dit beloof om ‘n riller van ‘n stryd te wees en sal waarskynlik weer deur die boulers gewen of verloor word.

Louis van Schalkwyk het ook 'n paar goeie vertonings vir Noordwes met kolf en bal in die hand, behaal.
Louis van Schalkwyk het ‘b vyftigtal en 6/20 teen Jeppe behaal vir Volkies

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button