Varsitybeker 2017: Pukke begin vanjaar teen UJ hulle staal as kampioene wys
Maandae aande is weer rugbytyd in Potchefstroom, met die koms van Varsitybeker-koors einde Januarie. Die Varsitybeker-toernooi vier vanjaar sy tiende bestaansjaar en die Pukke sal hoop om hulle naam weer op die trofee te sien. 2016 het gesorg vir die spannendste eindstryd tot nou toe en Pukke ondersteuners kan getuig dat hulle naels stompies gekou …
Maandae aande is weer rugbytyd in Potchefstroom, met die koms van Varsitybeker-koors einde Januarie.
Die Varsitybeker-toernooi vier vanjaar sy tiende bestaansjaar en die Pukke sal hoop om hulle naam weer op die trofee te sien. 2016 het gesorg vir die spannendste eindstryd tot nou toe en Pukke ondersteuners kan getuig dat hulle naels stompies gekou is na daardie 7-6 bekeroorwinning teen Maties verlede jaar.
In 2017 hoop die Pukke ondersteuners dat hulle geliefde Varsitybekerbrekers weer die trofee omhoog sal hou – sonder al die onnodige spanning.
Maar wat sal ‘n dekade van Varsitybekeraksie nou nie wees sonder al die drama wat ‘n keurspel van puik drieë, doodsnikdoelskoppe, klipharde lakke en kontroversiële beslissings insluit nie? Boonop begin Jonathan Mokuena se Pukke vanjaar met ‘n allemintige taak waar beide UJ en Maties wegwedstryde in die eerste drie weke moet trotseer. UJ sien hulle in week 1 by die UJ Stadion – juis daar waar verlede jaar se held, Rhyno Smith, ‘n fenomenale skepskop vanuit sy eie halfgebied oorgeklits het. Pukke het daardie wedstryd gedomineer en sal goeie herinneringe hou.

Tog is UJ altyd gevaarlik en in die afgelope twee groepwedstryde in 2015 en 2016 het Pukke tweede gekom. Maties aan die ander kant gaan wraak wil neem na hulle op die wreedaardigste manier moontlik teen Pukke in daardie finaal op die Danie Craven Stadion verloor het. Pukke sal wel wil wys dat hulle weer die Maties in Stellenbosch kan klop. Pukke se eerste tuiswedstryd is teen die NMMU Madibaz op 6 Februarie en daar kan verwag word dat hulle kampioenspan met helde applous op die veld verwelkom sal word. Pukke speel ook tuiswedstryde teen die Universiteit van Kaapstad, Wits en die Universiteit van Pretoria in die laaste rondte van die groepfase. Die Pukke/Tukkies wedstryd mag dalk een van die hoogtepunte vanjaar wees en kan wel die finale halfeindstrydplekke bepaal.
Dagboek gerus hierdie wedstryd op Maandag 27 Maart.
2017 Varsitybeker bepalings vir NWU-Pukke:
30 Januarie: UJ vs NWU Pukke – 16:45 (UJ Stadion) TV
6 Februarie: NWU Pukke vs Madibaz – 19:00 (Fanie du Toit Sportgronde) TV
13 Februarie: Maties vs NWU Pukke – 19:00 (Danie Craven Stadion) TV
20 Februarie: NWU Pukke vs Universiteit van Kaapstad – 18:30 (Fanie du Toit Sportgronde)
27 Februarie: UFS Shimlas vs NWU Pukke – 19:00 (Shimlapark) TV
6 Maart: NWU Pukke vs Wits – 18:30 (Fanie du Toit Sportgronde)
13 Maart: CUT vs NWU Pukke – 18:30 (CUT Rugbystadion)
27 Maart: NWU Pukke vs UP-Tuks – 16:45 (Fanie du Toit Sportgronde) TV



