Great Brick Run trek talle atlete
Atlete van Potchefstroom, die groter Noordwes Provinsie en internasionale lande soos Swede, het hulle drafvernuf tydens die bekende Berts Bricks Great Brick Run op Saterdag 21 Januarie ten toon gestel. Berts Bricks Atletiekklub het dié wedloop by die Potchefstroom Dorp Rugbyklub se velde aangebied en dit was soos in die verlede, weer eens ‘n groot …

Atlete van Potchefstroom, die groter Noordwes Provinsie en internasionale lande soos Swede, het hulle drafvernuf tydens die bekende Berts Bricks Great Brick Run op Saterdag 21 Januarie ten toon gestel.
Berts Bricks Atletiekklub het dié wedloop by die Potchefstroom Dorp Rugbyklub se velde aangebied en dit was soos in die verlede, weer eens ‘n groot sukses.
Sowat 750 atlete het aan die 5-, 10- en 21,1 kilometer afstande deelgeneem. Dit was juis die verskeidenheid atlete van verskillende ouderdomsgroepe, kulture en fiksheidsvlakke wat die wedloop so uniek gemaak het.
Die algehele wenner van die 21,1 km was Moate Aaron, wat die wedloop in ‘n tyd van 1:11 minute en 38 sekondes voltooi het. Die eerste dame was Louise Wiker van Swede, wat in ‘n tyd van 1:25 minute en 13 sekondes voltooi het.
Beide die eerste mans en dames wat die wedloop met ‘n baksteen voltooi het, kom van Klerksdorp af.
Die eerste man wat die 21,1 met ‘n baksteen voltooi het, was Phinias Stuurman en die eerste dame was Tony Bennet. “Die wedloop was ‘n groot sukses en die deelnemers van jonk tot oud het dit baie geniet. Die wedloop groei elke jaar en ten spyte van die moeilike ekonomiese toestande, het atlete van die Kaapprovinsie en baie van Gauteng ook deelgeneem,” het die organiseerders van Berts Bricks Atletiekklub genoem.
Volgens hulle is die groot hoogtepunt om elke jaar die ondersteuning van ‘n groot aantal deelnemers en lede van die gemeenskap te kry.
“Wat so ‘n wedloop spesiaal maak, is om die deelnemers se reaksies dop te hou as hulle die eindstreep oorsteek en om hulle stories na die tyd te hoor van wat op die roete gebeur het.
“Elke atleet wat die wedloop voltooi, ongeag hoe jonk of oud hy of sy is, het sy eie persoonlike doelwit wat hy wil bereik. “Vir sommige is dit om te wen, of selfs net om klaar te maak.” Berts Bricks Atletiekklub bedank graag vir Berts Bricks Potchefstroom, Kirby Potchefstroom, Willows Property Group, Sportsmans Warehouse Klerksdorp, Miederpark Spar, NWU Biokinetika, Potchefstroom Dorp Rugbyklub, vrywilligers, asook die Tlokwe Verkeersdepartement wat die roete veilig gemaak het.


































































