SportSport

Hierdie Luiperd is pure blits in groen trui

Rugbykenners kan maar gerus vir Pukke en die Luiperds Sewes-speler, Diederik Oberholzer met ‘n fyn oog dophou. Dié plaaslike rugbyspeler het einde verlede jaar die kans van ‘n leeftyd gehad toe hy in die SA Springbok Sewes-akademiespan opgeneem is vir twee groot Sewestoernooie in Kaapstad (19 November) en Dubai (2-3 Desember). “Dit was ‘n groot …

Rugbykenners kan maar gerus vir Pukke en die Luiperds Sewes-speler, Diederik Oberholzer met ‘n fyn oog dophou. Dié plaaslike rugbyspeler het einde verlede jaar die kans van ‘n leeftyd gehad toe hy in die SA Springbok Sewes-akademiespan opgeneem is vir twee groot Sewestoernooie in Kaapstad (19 November) en Dubai (2-3 Desember).

“Dit was ‘n groot eer gewees. Die afrigters was tevrede met my vertonings by die toernooie, so ja dit het goed gegaan,” vertel Oberholzer in sy groen SA Akademiespan-trui wat hy duidelik met trots dra.

Dit was juis daardie eerste drie vir die SA Akademiespan se groen trui in die Kaapstad-toernooi wat Oberholzer baie trots gemaak het.

“Die opposisie het die bal in die lug geskop waar ek die bal toe uit die lug gevang het en toe vir ‘n drie deurgehardloop het. Dit was my eerste drie wat ek soos gister onthou.

Diederik Oberholzer is Pukke se Sewes Speler van die Jaar.
Diederik Oberholzer is Pukke se Sewes Speler van die Jaar.

“In Dubai het ons het al drie ons groepwedstryde gewen en toe in die finaal teen Engeland te staan gekom. Dit was ‘n ongelooflike ervaring gewees om rugby van goeie gehalte in Dubai te kon speel en deel van die SA Akademie Sewesspan te kon wees.

Oberholzer voeg ook by dat dit juis aangenaam was om saam met die Blitzbokke te kon oefen en ‘n paar dinge by hulle te kon leer, wat die ervaring nog soveel beter gemaak het. Die SA-Sewes Akademiespan is juis die plek waar opkomende Springbok Sewes-spelers geïdentifiseer word.

“Die Akademiespan word geoogmerk om die volgende groep spelers te wees wat moontlik in die 2020 Olimpiese Spele kan deelneem,” noem hy.

Die oud matrikulant van Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen het reeds in sy skooljare bewys wat in hom steek en het na skool vyf Curriebekerwedstryde vir Vrystaat se o.19 span gespeel, voor hy sy skouer destyds beseer het.

“Pieter van den Berg, Luiperds Sewesafrigter, het my toe gekontak en gevra of ek nie vir die Luiperds wil kom speel nie. Ek het ingestem en van daar af het dinge net goed gegaan,” vertel Oberholzer, wat tans ‘n tweedejaar MBW Sport-student op die Puk is.

Diederik Oberholzer is in November verlede jaar vir die Springbok Sewes Akademiespan gekies en het met durf en daad die nommer 10 trui in hulle toernooi in Dubai gedra.
Diederik Oberholzer is in November verlede jaar vir die Springbok Sewes Akademiespan gekies en het met durf en daad die nommer 10 trui in hulle toernooi in Dubai gedra.

Op die nasionale Sewesweek in Nelspruit het Maruis Schoeman, SA Sewes Akademie se bestuurder vir Oberholzer raakgesien en die res is geskiedenis.

Oberholzer meen dat Sewes lekker en meer uitdagende aspekte het wat hom na hierdie rugbykode trek.

“’n Speler moet ongelooflik fiks wees aangesien daar meer oppervlakte op ‘n rugbyveld gedek moet word. Daar is ook meer kans om aan te val en ’n gaping te probeer slaan. Spoed en bietjie ekstra vaardighede is belangrik om jou opponent te kan klop. Ek werk hard en my doel is om die fiksste speler op die veld te wees.”

Volgens Oberholzer het Hein Wagner op o.14 vlak sy se talent vir aanvallende spel en veral die Sewes-formaat raakgesien.

“Hy het my aangemoedig om Sewes eendag te speel, veral omdat dit nie juis groot op skool is nie en daar eerder 15-man rugby gespeel word,” vertel Oberholzer, wat ook die speler van die toernooi tydens sy o.18 Cravenweek Sewes-toernooi was waar hy die meeste drieë gedruk het.

“Ek het nou saam met die Blitzbokke geoefen en ek kan met sekerheid sê dat Seabelo Senatla werklik blitsvinnig is. Werner Kok en Kwagga Smith en almal wat by die Blitzbokke is, is almal regtig nederig en bereidwillig om ons jonger ouens te help. Dit was vir my regtig lekker om daardie blootstelling te kon kry.” Oberholzer is tans in die Puk 1 rugbygroep vir die komende rugbyseisoen opgeneem en sal ook heel waarskynlik Varsity Sewes vir Pukke hierdie jaar speel asook vir die Luiperds Sewes en o.21 spanne.

“My doel is om nog eendag vir die Blitzbokke te speel en dan daarna ook te kyk of ek oorsee kan gaan speel. Om blootstelling te kry aan hulle afrigting en metodes, sal vir my ook goed wees,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button