SportSport

Rekords tuimel in Pukke en UJ se lopiefees op Puk-Oval

Soos manna uit die Hemel het die sesse en viere geval in vandag se Varsity Krieketstryd tussen Pukke en UJ op die Puk Oval vanoggend waar Pukke vir UJ met 44 lopies in ‘n lopiefees geklop het. Pukke het eerste gekolf met Janneman Malan (104) en Wihan Lubbe (125*)  wat albei ongelooflike honderdtalle in Pukke …

Soos manna uit die Hemel het die sesse en viere geval in vandag se Varsity Krieketstryd tussen Pukke en UJ op die Puk Oval vanoggend waar Pukke vir UJ met 44 lopies in ‘n lopiefees geklop het.

Pukke het eerste gekolf met Janneman Malan (104) en Wihan Lubbe (125*)  wat albei ongelooflike honderdtalle in Pukke se verstommende 252/2 in 20 boulbeurte geslaan het. UJ het ook hulle bes probeer en het ‘n stewige 208/3 aangeteken. Altesaam is ‘n ongelooflike 460 lopies in dié T20 wedstryd geslaan – ‘n toernooirekord.

Dit was ‘n kolfmeesterklas van Pukke se openingspaar met Lubbe wat op 125 * geeindig het, Malan was in die laaste boulbeurt vir ‘n verwoestende 104 uit.

Lubbe het in die proses die rekord vir die vinnigste honderdtal in Varsity Krieketgeskiedenis opgestel wat hy in net 47 balle behaal het. Dit het Stefan Klopper van UJ se rekord van 52 balle oorgesteek. Ironies dat dit nou sommer ook teen UJ gebeur het.

Lubbe se beurt het 11 viere en 6 sesse ingesluit trewyl Malan 8 viere en 6 sesse oor die grenstou gestuur het. Malan het sy 50 van 42 geslaan het en sy 100 van 58 balle. Dus, sy tweede 50 het net van 16 balle af gekom wat die ongelooflike versnelling bevestig.

Die gemak waarmee hierdie twee hulle beurte gespeel sal waarskynlik nie weer vanjaar in die Varsitybeker geisen word nie – droombeurte vir altwee waar alles perfek geloop het. UJ se boulers het geen genade gekry nie en moes keer op keer sien hoe die bal hoog en ver trek.

UJ wat gisteraand teen Tuks ook briljant gekolf het, kon wel nie onderskat word nie en het met groot selfvertroue die yslike totaal begin najaag.

Ryan Rickelton was  in ‘n verwoestende bui vir UJ gewees en alles in sy mag probeer om Pukke onder druk met ‘n paar massiewe sesse en viere te sit. Onder sy leiding het UJ 118/2 na 10 boulbeurte verkry. Die wedstryd kon enige kant toe gegaan het van hier af en Pukke se boulwerk sou nou getoets word.

Dylan Matthews was Pukke se sleutelbouler en hy het deurgebreek om Neels Bergh vir 21 terug kleedkamer toe te stuur. Rickelton was wel steeds daar en met hom was enige iets moontlik.

JP le Roux het wel die groot deurbraak gemaak toe hy van Rickelton vir ‘n briljante 76 (41) ontslae geraak het. Op daardie stadium was UJ 153/3 en het nog 100 lopies vir ‘n oorwinning nodig hehad het. Le Roux eindig met boulsyfers van 2/33.

Grant Roelofsen het ook goed bygedra met ‘n onoorwonne 54  maar dit was net nie genoeg nie.  Pukke se boulers,  Julian Soutter, Wihan Lubbe en Neil Durrow moet ook geprys word vir hulle akkurate boulwerk om UJ se tempo te stuit. Pukke kon teen 13:30 vanmiddag hulle asem skep na ‘n asemrowende wedstryd wat albei spanne se kolwers domineer het.

Pukke speel vanaand (Vrydag, 3 Februarie) teen Maties in ‘n groot wedstryd by Senwes Park teen 18:00.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button