Pukke in Varsity Krieket-eindstryd na hulle UJ met kolf en bal kelder
Pukke het hulle plek in die eindstryd van die 2017 Varsity Krieket bespreek met ‘n 7 paaltjie oorwinning teen UJ in vanmiddag se halfeindstryd. Marques Ackerman se onoorwonne 60 was die rugraat van hulle oorwinning gewees. Die linkerkolwer het allerlei uitstekende houe gespeel en komkommerkoel gebly met Janneman Malan se 34 en Ruan Haasbroek se …
Pukke het hulle plek in die eindstryd van die 2017 Varsity Krieket bespreek met ‘n 7 paaltjie oorwinning teen UJ in vanmiddag se halfeindstryd.
Marques Ackerman se onoorwonne 60 was die rugraat van hulle oorwinning gewees. Die linkerkolwer het allerlei uitstekende houe gespeel en komkommerkoel gebly met Janneman Malan se 34 en Ruan Haasbroek se 20* wat Pukke na 155/3 stuur om UJ se 154/6 verby te steek.
Pukke het voor entoesiastiese skare hulle staal en vernuf van vroeg af gewys toe kaptein Wihan Lubbe die eerste paaltjie in die eerste boulbeurt gekry het.
Jovaun van Wyngaardt het van die gevaarlike Stefan Klopper met ‘n uitklophou uitgeboul om UJ te laat steier op 13/2 na drie boulbeurte.
Die volgende boulbeurt het Wihan Lubbe se goue arm weer vir Pukke ‘n deurbraak gemaak toe hy van Neels Bergh ontslae geraak het vir ‘n nulletjie. UJ in groot moeilikheid op 14/3.
Grant Roelofsen (55) en Delano Potgieter (79) het die skade stelselmatig herstel met ‘n uitstekende 115 lopie vennootskap om die vyfde paaltjie.
Pukke het met hul draaiers probeer sukses behaal in die tweede helfte van UJ se beurt, met Ackerman en Lesego Senokwane wat met vlug en draai UJ beperk het.
Die berugte Power Play-boulbeurt kan ‘n wedstryd maak of breek en UJ kon slegs 10 lopies kry danksy Van Wyngaardt se streepballe.
Kort daarna het Pukke uiteindelik die gevaarlike venootskap gebreek toe Roelofsen vir JP le Roux se aflewering direk in Lubbe se hande gestuur het. UJ eindig hulle beurt op 154/6 na 20 boulbeurte danksy nog ‘n uitstekende finale boulbeurt van Van Wyngaardt.
Sake het nie te goed vir Wihan Lubbe met die kolf in die begin gegaan nie, toe hy vroeg uit vir 6 uit is.
Janneman Malan en Ackerman het toe hulle kop gehou en ‘n stewige venootskap aanmekaar getimmer om die telling verby die 50 lopie merk na ses boulbeurte te bring.
UJ kon vir Malan uitgehardloop het, maar het die goue geleentheid misbruik deur na die verkeerde boulkant te gooi. Net die volgende bal moker Malan ‘n majestieuse dryfhou vir vier, om sout in die wonde te smeer.
Keer op keer het Pukke op ‘n fyn lyn geleef met balle wat naelkraaps veldwerkers mis. Klopper het toe uiteindelik vir Malan vir 34 verwyder met Rickelton wat ‘n uitstekende vangskoot benut het. Met 10 boulbeurte oor was Pukke op 82/2 en het nog 73 lopies van 60 balle nodig gehad.
Ackerman en Dadswell het die telling toe goed laat aanbewig met ‘n 53 lopie vennootskap voordat Dadswell een hou te veel probeer slaan het en sy paaltjie vir 23 lopies verloor het.
Ruan Haasbroek het toe vir Ackerman bygestaan en sommer sy eerste bal ‘n lieflike vier gemoker. Hy het toe ‘n verdere ses en vier geslaan om Pukke na ‘n 7 paaltjie oorwinning te stuur.
*Moenie die eindstryd tussen Pukke en Tuks misloop nie. Die twee spanne speel vanaand vir die Varsity Krieket-titel om 19:00 in die eindstryd.




