SportSport

Volgepakte Fanie wag vir Pukke op Maandagaand

Die eerste wedstryd vir Pukke as Varsitybekerkampioene word eerskomende Maandag, 6 Februarie, op die Fanie du Toit Sportgronde gespeel en Jonathan Mokuena se manne kan beslis ‘n luidrugtige helde-applous verwag. ‘n See van maroen en wit word vir die wedstryd teen NMMU Madibaz voorspel en Pukke sal graag die wenskip in vanjaar se Varsitybeker wil …

Die eerste wedstryd vir Pukke as Varsitybekerkampioene word eerskomende Maandag, 6 Februarie, op die Fanie du Toit Sportgronde gespeel en Jonathan Mokuena se manne kan beslis ‘n luidrugtige helde-applous verwag.

‘n See van maroen en wit word vir die wedstryd teen NMMU Madibaz voorspel en Pukke sal graag die wenskip in vanjaar se Varsitybeker wil verder seil, nadat hulle verlede Maandag vir UJ met 16-12 in Johannesburg geklop het.

Dit was nie die mooiste wedstryd teen UJ se krygers nie, maar aan die  einde was Pukke se spanmentaliteit en deursettingsvermoë in groot storms deurslaggewend.

Vir Pukke se afrigter Jonathan Mokuena was hulle vertoning  juis ‘n bewys dat hulle as ‘n span kan saamstaan, al was toestande nie in hul guns nie.

“Dit was vir my goed dat ons karakter gewys het en vir mekaar omgegee het tydens die wedstryd. Dit is vir my krities dat ons bereid was om as ‘n span deur donker tye te gaan en dan die wen met die eindfluitjie te kry.”

Al was die toestande by die UJ Stadion weens die reën nie briljant vir hardlooprugby nie, het Pukke se regtervleuel, Jimmy Mpailane, die enigste drie van die wedstryd met ‘n kreatiewe beweging afgerond.

“Ek was baie bly oor daardie drie, veral omdat ons so gesukkel het om dit perfek op die oefenveld te kry. Toe werk dit presies soos ons dit wou hê. Jimmy het ook fantasties gedoen om UJ se heelagter, Ronald Brown te klop,” het Mokuena gesê.

Mokuena en Pukke gaan die res van die week moet fokus op hulle opponent vir komende Maandagaand 6 Februarie, wanneer die NMMU Madibaz in Potchefstroom kom kuier.

“Ons gaan maar aan ‘n paar goed werk en skaaf hier en daar nadat ons video-analises gedoen het,” het Mokuena verduidelik.

Foto's: Christiaan Kotzé/SASPA.

Die Madibaz is tans heel bo aan die punteleer na ‘n skitterende oorwinning teen UCT-Ikeys, waar hulle met ‘n blitsige agterlyn die tonge los gehad het. Senter Andile Jho het twee drieë gedruk terwyl Jixie Molapo ook beïndruk het. Pukke sal beslis ‘n oog oor Madibaz kaptein, Kevin Kaba moet hou, wat die Speler van die wedstryd-toekenning teen Ikeys ontvang het. Dié agtsteman is so gehard soos wat kan kom en sy stryd teen die Pukke agtsteman en kaptein, Jeandré Rudolph, kan deurslaggewend wees.

Pukke sal nog moet kyk of Marno Redelinghuys sal kan speel nadat hy die veld vroeg verlaat het weens ‘n kopstamp.

‘n Ligpunt vir Pukke was die vorm van Rudolph, sowel as die slotte Walt Steenkamp en Loftus Morrison wat albei vanjaar ‘n goeie eerste Varsitybeker wedstryd in die sak het. Haker, Wilmar Arnoldi was ook soos ’n tenk op die veld en het gedurig vir werk gesoek. Daar is geen twyfel dat Arnoldi weer met sy swart skrumpet ‘n impak op sy tuisveld sal wil maak nie.

Foto's: Christiaan Kotzé/SASPA.
Foto’s: Christiaan Kotzé/SASPA.

Natuurlik kan die tuisskare se impak ook ‘n groot verskil op ‘n volgepakte Fanie du Toit sportgronde hê en die studente en rugbyliefhebbers van Potchefstroom skep altyd ‘n asemrowende atmosfeer, om die minste te sê.

Die Maandagmiddag om 13:00 gaan daar ook ‘n amptelike Varsitybeker openingseremonie vir Pukke in die amfiteater op die Puk wees en dit sal die gemoedere hoog hou en die opwinding bou. Die wedstryd teen NMMU Madibaz skop om 19:00 af.

Puk-Span teen NMMU Madibaz

NWU-Pukke teen Madibaz: Lungelo Gosa; Jimmy Mpailane, Elden Schoeman, Henko Marais Tapiwe Mafura; Schalk Hugo, Chriswill September; Jeandré Rudolph (kaptein), Marno Redelinghuys, Wandile Mazibuko, Loftus Morrison, Walt Steenkamp, Dewald Dekker, Wilmar Arnoldi, Dolf van Deventer. Reserwes: Louis van der Westhuizen, Nico van Tonder, Morné Strydom, Boela Venter, Marcel Henn, Caleb Louw, AK Nela, Justin Newman

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button