SportSport

Inter-glorie vir Gimmies met 25ste oorwinning in 26 jaar

Potchefstroom Gimnasium se atlete kon weer eens met hul wysvinger in die lug staan na die 25ste oorwinning die afgelope 26 jaar by die Potchefstroom Atletiek-interhoër. Die byeenkoms het op Saterdag 11 Februarie by die Puk McArthur Atletiekstadion plaasgevind. Hoër Volkskool Potchefstroom, Hoërskool Lichtenburg, Potchefstroom Girls High en Potchefstroom Boys High het amptelik aan die …

Potchefstroom Gimnasium se atlete kon weer eens met hul wysvinger in die lug staan na die 25ste oorwinning die afgelope 26 jaar by die Potchefstroom Atletiek-interhoër.

Die byeenkoms het op Saterdag 11 Februarie by die Puk McArthur Atletiekstadion plaasgevind.

Hoër Volkskool Potchefstroom, Hoërskool Lichtenburg, Potchefstroom Girls High en Potchefstroom Boys High het amptelik aan die byeenkoms deelgeneem. Gimmies het net te veel skietgoed gehad en hul span was met reg die beste.

“Ons het baie toegewyde atlete en elke jaar is ons geseën om ‘n goeie span te hê. Een van die redes waarom ons presteer, is die jong afrigters wat ons het wat baie moeite insit. Die atlete geniet dit om advies te kry en dan die resultate te sien,” vertel Arnold van der Merwe, Gimmies se atletiekorganiseerder.

Van die 138 items wat amptelik plaasgevind het, behaal Gimmies 75 eerste-, 49 tweede- en 40 derde plekke. Gimmie atlete wat prestasies bo 1 000 punte behaal het is Almero Niemann, Karmen Fouché (3 items), Miandi van Staden, Leasha Louwrens, Malleen Pienaar en Waldouw Smit. Gimmie atlete wat prestasies bo 900 punte behaal het is Mizelle Muller, Morné Stafford, Francois Weideman, Marthinus du Preez, Wian Oosthuizen (3 items), Nardus Swart (2 items), Donevan du Toit, Maritz Pieters (2 items), Philip Botha, Alexio de Waal, Simphiwe Mkhanze, Lumka Gebengana (2 items) en Jacqueline van Rooyen.

Volkies se beste presteerders was Robert de Villiers, die victor ludorum, wat ‘n uitstekende middel- en langafstandatleet is en in die 800-, 1500- en 3000  meter uitgeblink het. Ander Volkie atlete wat bo 900 punte behaal het was Mardi Swart (300 meter hekkies) sowel as Marionique Wentzel (hoogspring).

Gimmies het al ses die spantrofeë ingepalm (dogters en seuns, wen die A- en B-afdelings en wen dus ook die A- en B-kompetisies).

Van der Merwe meen ook dat hy self  positiewe denke voor die Interhoër gebruik om die atlete aan te spoor.

“Twee weke voor die byeenkoms stap ek uit met die Triomf Trofee en dan sê ek niks nie. Die trofee staan dan daar en die atlete is heeltyd daarvan bewus dat die trofee hier by Gimmies hoort,” noem hy.

“As ‘n mens na die uitslae kyk en sien hoe die atlete presteer, dan sê ek altyd vir hulle dat die stophorlosie en maatband nie lieg nie.

Nie enige iemand kan wen nie en dit verg harde werk en talent om die beste te wees. Atletiek is baie soos die lewe, en jy sal beloon word deur nie moed op te gee nie. Baie atlete het Saterdag daardie Gimmie-Guts gewys,” het Van der Merwe verder beklemtoon.

Van der Merwe is ook oortuig dat hierdie oorwinning net weer bewys dat Gimmies die beste plattelandse atletiekskool in die land is.

“Ons hou ons wysvingers in die lug om te wys ons is nommer een, ons hoef dit nie vir almal te sê nie.”

Hier is al die foto’s: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/28931/gimmies-wen-weer-groot-by-interhoer/

Individuele prestasies:

Beste junior-dogter: Karmen Fouché (Gimmies)

Beste junior seun: Almero Niemann (Gimmies)

Beste senior dogter: Clarissa Weyer en Carma Rossouw (Lichtenburg)

Beste senior seun: Waldouw Smit (Gimmies)

Victrix ludorum: Karmen Fouché (Gimmies)

Victor ludorum: Robbie de Villiers (Volkies)

A-kompetisie (algeheel)

Gimmies: 449

Lichtenburg: 366

Volkies: 325

Girls High: 115

Boys High: 108

B-kompetisie (algeheel)

Gimmies: 421

Lichtenburg: 350

Volkies: 29 Girls High: 112

Boys High: 76

Interhoër se groot presteerders

Robbie de Villiers van Volkskool: senior victor ludorum.

Karmen Fouché van Gimmies: beste junior dogter (enkel-item) en victrix ludorum.

Waldouw Smit van Gimmies: beste senior seun (enkel-item). Eliza Meyer, skoolhoof van Potchefstroom Girls High het al die trofeë oorhandig.

Clarissa Weyer en Carma Rossouw van Lichtenburg: beste senior dogtersatlete.  Rossouw was afwesig met die neem van die foto.

Almero Niemann van Gimmies: beste junior seun (enkel-item).

Related Articles

Back to top button