SportSport

Onafskeidbare skakelpaar gooi en skop reeds sedert hul skooljare saam

Vanaf Worcester tot in Potchefstroom is skakelpaar Chriswill September en Schalk Hugo se rugbyreis al van kindsbeen af vir groot dinge bestem. Toe hierdie twee rugbyvriende in graad een vir die eerste keer saam balle rondgegooi het op die Worcester Voorbereidingskool se velde, sou hulle waarskynlik nie geweet het dat hulle sowat 15 jaar later …

Vanaf Worcester tot in Potchefstroom is skakelpaar Chriswill September en Schalk Hugo se rugbyreis al van kindsbeen af vir groot dinge bestem.
Toe hierdie twee rugbyvriende in graad een vir die eerste keer saam balle rondgegooi het op die Worcester Voorbereidingskool se velde, sou hulle waarskynlik nie geweet het dat hulle sowat 15 jaar later steeds onafskeidbaar sou wees en op Varsitybeker-vlak vir NWU Pukke se kampioenspan in die gesogte nommer 9 en 10-truie sou uitdraf nie.
Nou is September die generaal op skrumskakel, wat seker maak dat Hugo op losskakel, die bal in die spreekwoordelike broodmandjie kry om sy agterlyn met hoë intensiteit te voed.
September en Hugo, albei 22, is soos vinkel en koljander wat vanjaar saam deel van Pukke se wenspan wil wees wat weer die Varsitybeker omhoog hou. Hulle wil dit saam ervaar, nes omtrent elke ander rugby oomblik wat hulle gedeel het.

“Ek en Schalla het weer herenig by Soetdorings toe ons by die Puk aangekom het in ons eerste jaar. Dit was nogal interessant, juis omdat ons saam op laerskool gespeel het, toe teen mekaar op hoërskool en nou weer saam vir Pukke,” vertel September.

“Ons was in dieselfde klas in graad een, het saam bulletjierugby gespeel en toe van daar af ‘n paar goeie jare op laerskoolvlak gehad,” noem September.
Volgens Hugo het hy en September in graad vyf begin om saam in die nommer 9 en 10-truie te speel, waarna hulle ook saam vir Boland se o.12 span uitgedraf het.

Schalk Hugo in aksie vir Pukke. Foto Mario van de Wall/SASPA
Schalk Hugo in aksie vir Pukke. Foto Mario van de Wall/SASPA

Met September en Hugo se sukses op laerskoolvlak sou dit sin gemaak het dat hierdie twee wel ook vir dieselfde hoërskoolspan sou uitdraf, maar aan die einde van hulle graad sewe-jaar is September na HTS Drostdy en nie saam met Hugo na Worcester Gimnasium nie.

“Ek en my familie was saam met Schalla op vakansie toe ons o.13A afrigter ons bel. Hy het my gevra of ons nie albei HTS Drostdy toe wil gaan nie, maar Schalk se broer was reeds in Worcester Gimnasium. Ons was dus in naburige hoërskole, slegs drie blokke van mekaar af. Daardie twee skole het ook ‘n groot rugbytradisie en hul wedstryde is amper soos Gimmies en Volkies hier in Potch,” vertel September.

”Op Hoërskool het ons saam gespeel, ook vir Noord-Boland spanne, wat lekker was, veral omdat ons nie meer so baie kon saamspeel nie,” vertel Hugo voordat September ‘n interessante feit, so tong in die kies verskaf.
“In graad nege het Schalk ook vir Worcester Gimnasium skrumskakel gespeel en ek dink almal weet wie het daardie skrumskakel-geveg tussen my en hom gewen,” lag September.

Schalk Hugo en Chriswill September toe hulle saam vir die Boland o.12 span gekies is.
Schalk Hugo en Chriswill September toe hulle saam vir die Boland o.12 span gekies is.

“Skooljare was lekker en toe gebeur dit so dat ons weer saam speel toe ons Potch toe trek. Ons het vir die Puk Young Gunsspan asook die Luiperds o.19 Curriebekerspan gespeel. Daardie jaar het ek en Chriswill teen WP o.19 gespeel en hulle op hulle tuisveld (City Park in Athlone) geklop.
Chriswill het twee drieë gedruk en ek het die wenskop van die hoekie af oorgesit. Dit was beslis ons beste wedstryd saam omdat ons familie ook daar was,” vertel Hugo.

Tog was dit ook bittersoet toe Hugo na drie wedstryde sy enkel gebreek het, en die res van daardie o.19 seisoen moes misloop – die begin van ‘n rits beserings wat Hugo se speeltyd in sy jare op die Puk tot dusver belemmer het.

“Hierdie jaar is juis nou vir ons spesiaal omdat ons albei saam in die beginspan vir die Varsitybeker is op nommer 9 en 10. Ons albei is fiks en gesond en hierdie jaar wil ons saam daardie Varsitybeker vashou. Ek dink dit sal ongelooflik wees,” vertel Hugo met ‘n glimlag.

Na al die jare van saam speel is dit logies dat hierdie paar mekaar se rugbyvaardighede goed sal ken. Albei glo juis dat goeie kommunikasie, vriendskap en ‘n goeie verstandhouding hulle spel versterk.

“Chriswill se sterk punte is beslis sy vinnige balverspreiding en die akkuraatheid van sy aangee, veral na die voorspelers toe. Hy kan ook vinnig in ‘n gaping breek by ‘n losgemaal en organiseer die voorspelers en verdediging goed,” verduidelik Hugo.

“Ja, ek dink Schalla se taktiese skopwerk is juis uitstekend en hy vang altyd my aangee na hom toe, maak nie saak of dit naby die grond ook is nie, hy is regtig goed met sy hande. Sy flair op die aanval maak hom een van die beste losskakels in die Varsitybeker,” verf September die heuningkwas.
In die toekoms sal ‘n droom vir dié dinamiese skakelpaar wees om Superrugby te kan speel en dalk sien en hoor rugbyliefhebbers binnekort die “September-Hugo” kombinasie op hulle TV-skerms, wat Worcester se naam in die wêreld hoog sal hou.

Interessante feite:
Studies: September: B.Com. Ondernemingsbestuur (Hons). Hugo: BA Sportwetenskap en ‘n nagraadse besigheidsdiploma
Rugbyhelde: Schalk Hugo: Daniel Carter en Jonny Wilkinson. September: Joost van der Westhuizen en Aaron Smith
Byname: Hugo: “Schalla” September: “Kaaskrul” of “Cheese”
Snaakste ding wat julle op ‘n veld gesien het? “Een van ons spanmaats in ‘n wedstryd op die Fanie du Toit Sportgronde het een keer harsingskudding opgedoen en toe ons weer sien loop hy oor na die krieketveld aan die ander kant, heeltemal onbewus van waar hy is.”
Interessante feit wat niemand van julle weet nie: “Voor ons Young Guns wedstryde het ons vir mekaar liedjies gemeng, dan sal Schalk myne luister en ek Schalk s’n voor wedstryde.
Dit het altyd lekker op die bus op pad na wedstryde gewerk.” Ons albei hou van House-musiek, maar Schalk is ook groot op Eminem se musiek.”
Lewensmotto? Hugo: “Ek is tot alles in staat met die Here wat my krag gee.” Fillipense 4:13.
September: “Niks is vir God onmoontlik nie.” – Lukas 1:37.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button