Wits troef kampioene op eie tuisveld
Wits het vanaand (Maandag, 6 Maart) vir Pukke ‘n duur les geleer en hulle kanse benut om ‘n briljante en geskiedkundige 22-13 oorwinning op die Fanie du Toit Sportgronde te behaal. Die blydskap op die Wits-spelers se gesigte was kenmerkend van hierdie belangrike oorwinning, terwyl skare Puk-ondersteuners alreeds vyf minute voor die eindfluitjie die pawiljoene …
Wits het vanaand (Maandag, 6 Maart) vir Pukke ‘n duur les geleer en hulle kanse benut om ‘n briljante en geskiedkundige 22-13 oorwinning op die Fanie du Toit Sportgronde te behaal.
Die blydskap op die Wits-spelers se gesigte was kenmerkend van hierdie belangrike oorwinning, terwyl skare Puk-ondersteuners alreeds vyf minute voor die eindfluitjie die pawiljoene teleurgesteld verlaat het.
Pukke kon geen punte in die tweede helfte aanteken nie en swak besluitneming sowel as goeie verdediging van Wits het hulle gekelder.
Wits se agterlyn was een van hulle grootste sterkpunte met Gianni Lombard wat op losskakel , in Warren Gilbert se plek, die spel saam met ‘n indrukwekkende Wandisile Simelane beheer het.
Simelane was op sy stukke en het Pukke keer op keer na wind laat gryp met sy kraglopies en flink voete op die aanval.

Wits het alreeds konstant die druk op Pukke in die eerste 11 minute met uitstekende skrumwerk gesit, maar die tuisspan se verdediging was rotsvas.
Louis van der Westhuizen het die eerste drie vir Pukke gaan druk om die bal aan die rol te sit, na ‘n rolmaalbeweging.
Julian Delicado het wel sy skopskoen by die huis vergeet, toe hy drie skoppe in ‘n ry mis wat ‘n demper op Pukke se telborddruk geplaas het.
Lombard het wel die goeie momentum in sy guns gebruik en vir Wits gaan druk en verdoel om ‘n 7-5 voorsprong te gee.
Delicado het toe met ‘n strafskop weer vir Pukke laat voorloop en met 15 minute oor in die tweede helfte was dit 8-7.
Jimmy Mpailane se vaart het weer bietjie asemhaling vir Pukke geskep met sy span se tweede drie wat ‘n ses punt voorsprong besorg het net toe hulle dit die meeste nodig gehad het.
Teen halftyd was Pukke 13-7 voor, maar hulle kon soveel meer punte aangeteken het.
Pukke het die tweede helfte goed begin en konstant op Wits se doellyn geboer maar kon net nie in die eerste 10 minute deurbreek nie. Elke keer kon Wits die balbesit omdraai en dan die druk verlaag.
Pukke kon amper ‘n drie gaan druk het in die 55ste minuut, maar onnodige foute het gekeer dat hulle die voorsprong verder neem.
Dit het Pukke amper duur te staan gekom toe Brandan Hewitt van sy eie 22 deurbreek en die bal vir Simelane aangee, maar gelukkig vir Pukke kon Simelane omtrent 13 meter van die doellyn vasgevat word.
Wits het wel hulle tweede drie gaan druk met flank, Constant Beckerling wat oorduik om die slegs een punt agter Pukke te beweeg met die telling op 13-12. Lombard kon net nie doelskop oorsit nie en Pukke kon asemhaal met ‘n skrale voorsprong.
Pukke het wel weer duur betaal vir strafskoppe toe Wilmar Arnoldi vir ‘n hoogvat afgestuur is. Lombard het toe koel en kalm die strafskop oorgesit om Wits ‘n 15-13 voorsprong te gee.
Pukke kon telkemale drie punte aangeteken het, maar het met swak besluitneming en dalk ‘n gebrek aan vertroue in Delicado se skopvermoens besluit om eerder ‘n vinnig tikskoppie of lynstaanskop te neem.
Die kersie op Wits se koek was toe Manuel Rass oorgeduik het om Pukke se doppie finaal te klink. Wits het hierdie wen verdien en kan trots wees op hierdie geskiedkundige oorwinning. Pukke aan die ander kant sal nou hulle fokus na CUT skuif na twee moeilike nederlae.
Punte:
NWU Pukke: 13
Drieë: Louis van der Westhuizen, Jimmy Mpailane
Doelskoppe:
Strafskoppe: Julian Delicado
Wits: 22
Strafskoppe: Lombard
Doelskoppe: Lombard (2)
Drieë: Gianni Lombard, Constant Beckerling, Manuel Ras



