Potchefstroom se vegkunsvegters bal vuis
Daar is ‘n vegtersgees in Hein Pavier, gemengde gevegskunsatleet (MMA) se stem wanneer hy oor die interessante sportsoorte praat wat deel van die Warrior Sportklub in Potchefstroom is. “Ek het in 2012 begin met MMA omdat ek met my rugby agtergrond weer wou begin oefen en fiks word. Na daardie eerste toernooi in 2012 het …
Daar is ‘n vegtersgees in Hein Pavier, gemengde gevegskunsatleet (MMA) se stem wanneer hy oor die interessante sportsoorte praat wat deel van die Warrior Sportklub in Potchefstroom is.
“Ek het in 2012 begin met MMA omdat ek met my rugby agtergrond weer wou begin oefen en fiks word. Na daardie eerste toernooi in 2012 het ek nie opgehou nie. Die gogga het my behoorlik gebyt,” vertel Pavier oor hierdie vinnig groeiende sportsoort.
Sedertdien het hierdie gevegskuns-gogga ook talle ander Potchefstromers gebyt wat hulle dag se pret en plesier by die Warrior Sportklub vind. Pavier noem dat Warrior Sport se Potchefstroom-tak een van vier in Suid-Afrika is, terwyl daar ook klubs in Nieu-Seeland is.

“Enige iemand kan by Warrior Sports in Potchefstroom aansluit en hy/sy begin dan met ‘n baie basiese klas. Ons leer mense alles van die begin af en gee dan geleidelik kans om te verbeter.” Daar is genoeg geleentheid om ernstig te raak en Warrior Sports Potchefstroom spog met Mickey Cloete in hul geledere.
“Mickey is sewende in Afrika en hy doen goed. Daar is juis ‘n groot Klerksdorp Fight Night-byeenkoms komende Saterdag waar hy gaan deelneem. Ons as klub neem ook deel in die Fight Star-liga, sowel as die Cape Town Fight League.” Volgens Pavier is selfvertroue een van die belangrikste voordele van hierdie sport en dat gemengde vegkuns juis gesien moet word uit ‘n selfverdedigingsoogpunt.

“Ons reël is as jy baklei buite die klub en dit nie uit selfverdediging was nie, dan word jou kontrak beëindig. Ons bied ook verskillende vegkunste aan soos Krav Maga, Brasiliaanse Jiu-Jitsu, gemengde vegkuns (MMA) en skopboks. Elke kuns het sy eie tegnieke,” sê hy.
“Krav Maga is ‘n Israeliese vegkuns en is uniek aan Warrior Sport in Suid-Afrika. Dit fokus spesifiek op selfverdediging op straat en om in werklike situasies iemand uit te haal. Brasiliaanse Jiu Jitsu is weer baie gefokus om op die grond te baklei en jouself so te verdedig. Daar is tans omtrent 40 lede in die klub wat vanaf 1 Januarie ‘n nuwe perseel in Retiefstraat 44 hul tuiste gemaak het. Fooie is R350-R500, afhangende van die pakket. Enige belangstellendes kan vir Hein Pavier by 079 781 2549 kontak.



