SportSport

Daar lê nou een grote voor vir NWU-Pukke

Al het Pukke ‘n bonuspunt 43-38 oorwinning teen CUT in die afgelope Maandag se Varsitybekerwedstryd behaal, was dit ook glad nie oortuigend gewees nie. Pukke moes hierdie wedstryd ver wen om hulself ‘n goeie kans te kan gee om die Varsitybeker rangleer te klim. Dit was wel verblydend om te sien dat Pukke weer van …

Al het Pukke ‘n bonuspunt 43-38 oorwinning teen CUT in die afgelope Maandag se Varsitybekerwedstryd behaal, was dit ook glad nie oortuigend gewees nie.
Pukke moes hierdie wedstryd ver wen om hulself ‘n goeie kans te kan gee om die Varsitybeker rangleer te klim.

Dit was wel verblydend om te sien dat Pukke weer van die staanspoor af goed begin het en ‘n gemaklike 31-10 voorsprong teen die CUT Ixias teen halftyd gehad het. Tog het ‘n swakker tweede helfte vertoning vir ‘n paar senuweeagtige oomblikke gesorg.

Foto’s: Frikkie Kapp/SASPA

“Ons het werklik goed begin en ek kon sien dat die ouens honger is. Ons span het vier drieë in die eerste 20 minute gedruk en dit was uitstekend. Dit was wel vit my ‘n bittersoet ervaring in die tweede helfte toe die ouens bietjie fokus verloor het,” het NWU Pukke afrigter, Jonathan Mokuena genoem.

Vir Pukke het Elden Schoeman, Wilmar Arnoldi, Jimmy Mpailane, Jeandré Rudolph, Boela Venter, Tapiwe Mafura en Walt Steenkamp oorgeduik. Julian Delicado het vier van hierdie drieë verdoel, maar het weer ‘n paar skoppe gemis en sal sy visier moet verskerp. CUT se staatmaker was die groot slot Kian Skippers, sowel as Ruben Heymans en stut Kabous van Schalkwyk wat sy brute krag met twee drieë beklemtoon het.

Pukke het wel hierdie week ‘n loslootjie voor hulle groot wedstryd teen Tukkies op Maandag 27 Maart, wat as ‘n kwartfinaal vir Mokuena se manne sal dien.
Volgens Mokuena gaan Pukke juis op hulle psigiese vaardighede moet werk om hulle gereed te kry vir dié wedstryd teen Tukkies.

“Fisies het ons gedoen wat ons kan. Dit gaan nou als oor die mentaliteit wat die spelers gaan hê. Ek gaan die spelers Donderdag en Vrydag afgee om bietjie te rus en dan sal ons weer Maandag en Dinsdag volstoom voorberei vir die wedstryd teen Tukkies.”

In die Pukke-kamp sit kaptein Jeandré Rudolph tans met ’n geswikte enkel terwyl Marno Redelinghuys ’n dyspierbesering het. Tans sit Pukke buite die top vier in vyfde plek op 18 punte na sewe wedstryde. Wits, UJ en Shimlas lyk of hulle saam met Pukke vir die laaste twee halfeindrond plekke gaan meeding en alles sal die volgende twee rondtes duideliker word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button