Noordwes atlete kook by Atletiek Sentraal Noordwes Kampioenskappe
Daar is die afgelope naweek, 17-18 Maart, weer bewys wat in die Noordwes Provinsie se atlete steek met pragvertonings tydens die jaarlikse Atletiek Sentraal Noordwes Kampioenskappe. In die bloedige hitte het deelnemers geswoeg en gesweet maar op die ou einde oorwin. Talle atlete het hulle hande opgesteek om vir die SA Kampioenskappe te kwalifiseer wat …

Daar is die afgelope naweek, 17-18 Maart, weer bewys wat in die Noordwes Provinsie se atlete steek met pragvertonings tydens die jaarlikse Atletiek Sentraal Noordwes Kampioenskappe. In die bloedige hitte het deelnemers geswoeg en gesweet maar op die ou einde oorwin.

Talle atlete het hulle hande opgesteek om vir die SA Kampioenskappe te kwalifiseer wat vanaf 7-8 April in Kaapstad (junior) en 20-22 April in Potchefstroom (senior) gaan plaasvind.

Een van hierdie atlete is natuurlik Potchefstroom se Olimpiese goue heldin, Caster Semenya wat lyk of sy sonder om te blik of te bloos haar teenstanders klop. In die 400 meter item was Semenya een vlak bo die res en wen gemaklik in ‘n tyd van 52.89. Mede-Pukke, Danel Holton (55.04) en Arianne Nel (56.22) moes maar veg vir tweede en derde plekke. Semenya het in die 200 meter ook haar staal gewys en amper vir Nel weer geklop in ‘n tyd van 24.67.
Twee oud-leerlinge van Hoërskool Rob Ferreira, Danel Bieldt (spiesgooi) en Lente Pieterse (100 meter), het ook uitgeblink in hulle onderskeie items in hulle NWU-Pukke atletiekdrag. Bieldt het ‘n 44.02 gegooi terwyl Pieterse 12.19 gehardloop het.

Pukke se Julia du Plessis was soos gewoonlik ook weer die top hoogspringer met ‘n sprong van 1.75 meter.
Die senior mans 1500 meter wedloop tussen Jerry Motsau en Rantso Makopane was ook een vir die boeke gewees met ‘n uiters kompeterende kop-aan-kop wedloop.
Motsau het hierdie wedloop met ‘n haarbreedte in ‘n tyd van 03:40.79 gewen, terwyl die Varsity Atletiekkampioen Makopane slegs 5 honderdstes van ‘n sekonde, met 03:40.84 tweede moes eindig.
Koketso Mogapi in die verspring met ‘n sprong van 7.23 meter en Tshepang Makhete met ‘n gooi van 69.78 in die hamergooi het ook vir die Puk beïndruk.
Mpho Links was ook uitstekend en het 2.20 meter in die hoogspring behaal. Hy gaan definitief iemand wees om dop te hou.
Chederick van Wyk het hom ook as Noordwes se beste naelloper beklemtoon met oorwinnings in die 100 en 200 meter.
Foto’s: Wouter Pienaar











































