
So die nuutverkose president van die OP-Rugbyunie, André Rademan is glo glad nie paniekerig oor die Kings wat heel moontlik uit die Superrugby reeks gegooi gaan word nie.
Volgens Rademan is dit nog nie ’n uitgemaakte saak dat die Kings hulle plek gaan verloor nie. Ek reken hy moet maar glo watokal hom beter laat slaap in die aande. Ek glo daar is geen ander keuse as om die Kings te laat vaar nie.

Die hele proses om nou te besluit wie bly of wie gly kan ook baie vereenvoudig word.
Die sokkerspanne het die wenresep, wanneer daar besluit moet word watter spanne hulle lande gaan verteenwoordig in die verskeie kontinente se kampioensliga, word die top vier spanne gekies.
Dit is nie noodwendig altyd dieselfde spanne wat aan die kompetisie deelneem nie.
Leicester City is ’n goeie voorbeeld, aangesien hulle verlede jaar die Engelse premier liga gewen het, het hulle die kans verdien om in die Europese kampioensliga te speel.
Alhoewel hulle nie regtig vanjaar in die liga presteer nie het hulle al deur gedring na die uitkloprondtes van die kontinentale kompetisie. Soos dinge nou gaan, sal hulle die kompetisie moet wen om weer deel te neem.
Is dit nie eintlik ’n goeie manier om na die kwessie oor Superrugby te kyk nie?
Die spanne wat onder die top vier eindig in ons plaaslike premier kompetisie (Curriebeker) verdien dan om Suid Afrika te verteenwoordig in Superrugby.
So as daar gekyk word na verlede jaar se Curriebeker uitslae sou die vier spanne wat Suid Afrika vanjaar in Superrugby sou verteenwoordig, die Cheetahs, Bulle, WP en Leeus wees.
As ’n Sharks ondersteuner sou dit vir my ’n baie bitter pil wees om te sluk, maar ons almal weet hulle het nie die beste van Curriebeker seisoene gehad nie. So het elke span ’n kans om aan Superrugby deel te neem.
Dit gee elke unie ’n regverdige kans om die geld wat met Superrugby gepaard gaan te kry.
Dit sal ook die aansien van die Curriebeker verhoog, bloot omdat spanne sal weet dat hulle, hulleself sal moet bewys in dié kompetisie.



