Patria Blues se sterk broederskap wil Vishuis bleek om die kiewe laat
Die Patria Blues Varsity Koshuisrugbyspan wil komende Maandag die Steinhoff Koshuisrugby konings wees. Hierdie Patria broederskap speel reeds as een troep in die blou kleur van konings, maar sal in die eindstryd in Pretoria eers kan bewys dat hulle op die troon kan sit en die beker as kroon kan dra. Na verlede jaar se …
Die Patria Blues Varsity Koshuisrugbyspan wil komende Maandag die Steinhoff Koshuisrugby konings wees. Hierdie Patria broederskap speel reeds as een troep in die blou kleur van konings, maar sal in die eindstryd in Pretoria eers kan bewys dat hulle op die troon kan sit en die beker as kroon kan dra.
Na verlede jaar se hartseer nederlaag teen Vishuis Manskoshuis van Kovsies gaan hierdie ou teenstanders weer rugbyoorlog hou en die Patria Blues is gereed om die Puk se naam hoog te hou – daaroor is daar geen twyfel nie.
Patria het hierdie jaar ‘n stewige span met Hendrik du Plessis as kaptein, die alombekende James Stoffberg as koshuisvader wat natuurlik met sy kennis ‘n groot bydrae lewer, sowel as die oud Wes-Transvaal speler, DP Swart wat as afrigter waarde bring. Interessant genoeg was Swart in sy koshuisjare in Vishuis gewees en hy sal aan niks beter kan dink as om sy alma mater op die rugbyveld vir die gesogte beker te klop nie.

“Ek is ‘n ou Vishuis-man, so dit sal vir my ‘n voorreg wees om teen ‘n goeie rugbykoshuis soos Vishuis te kan wen. Ek sê altyd jy toets jou teen die beste en Vishuis is die verdedigende kampioene. Die bal is nie rond nie en enige iets kan in ‘n eindstryd gebeur,” verduidelik Swart.
Volgens Swart word ‘n eindstryd in die laaste 15 minute gewen en die span wat die sterkste by hulle strukture en wedstrydplan hou, sal die beker vat.
“Die feit dat ons verlede jaar verloor het teen Vishuis, dink ek spoor die manne net meer aan om hierdie jaar sake reg te stel. Dit sal ook daardie ‘houvas’ wat Vishuis het breek,” vertel Swart.
Dit is ook Stoffberg se laaste jaar as koshuisvader by Patria en hy sal graag sy termyn op ‘n hoogtepunt met dié beker wil afsluit.
“Ons het al teen Vishuis gespeel so ons weet wat om te verwag. Die ouens se gees is briljant en ons koshuisvader het ons as ‘n koshuis baie naby aan mekaar getrek,” vertel kaptein, Hendrik du Plessis.

Volgens Du Plessis is Patria juis so ‘n goeie koshuis weens hulle broederskap en eenheid. “Die vlak van respek en broederskap onder mekaar is iets wat geen ander koshuis het nie. Almal voel deel en ken mekaar. Dit is wat ons sterk maak. Ons het nie noodwendig sterre in die span nie, almal is ewe belangrik,” verduidelik Du Plessis die span etos.
Volgens dié staatmaker kaptein gaan koshuistrots behoorlik uit sy nate bars op die veld en hy kan aan niks beter dink as bekerglorie saam met sy Patria-broers nie. “Daar is mense wat ons ondersteun en mense wat in ons twyfel en dit sal dus alles beteken om te wen. Ons is nou al so lank betrokke in die kompetisie en dit is nou tyd om vir almal te wys dat ons wenners is.” Dié wedstryd skop om 16:45 op Maandag 17 April af.



