Patria weer eens naaswenners in Varsity Koshuisrugby
Nog ‘n jaar, nog ‘n tweede plek vir Patria Manskoshuis in die Varsity Koshuisrugby-eindstryd. Dit was amper asof ‘n gebreekte langspeelplaat maar weer eens die woorde “naaswenners” by Tuks se LC de Villers-stadion basuin het, toe Vishuis Manskoshuis van Kovsies die Patria manne met 26-10 in die eindstryd op Maandag 17 April geklop het. Vanuit …

Nog ‘n jaar, nog ‘n tweede plek vir Patria Manskoshuis in die Varsity Koshuisrugby-eindstryd.
Dit was amper asof ‘n gebreekte langspeelplaat maar weer eens die woorde “naaswenners” by Tuks se LC de Villers-stadion basuin het, toe Vishuis Manskoshuis van Kovsies die Patria manne met 26-10 in die eindstryd op Maandag 17 April geklop het.
Vanuit die staanspoor was Vishuis meer georganiseerd en het minder ongedwonge foute begaan. Die verdedigende kampioene het ook die eerste drie gaan druk toe slot, Charl du Toit, gaan druk het.
Patria het wel kort daarna gaan druk, danksy ‘n briljante agterlynbeweging en flink handewerk wat Wilbri Gunter afgerond het. Dit was die laaste tikkie geluk vir die Potchefstromers met Vishuis wat toe vir hulle tweede drie danksy, AJ Brits, deurhardloop.
Patria het wel in die tweede helfte meer balbesit in die eerste 20 minute gehad, maar kon net nie deurbreek nie. Toe dit gedane sake was, het skrumskakel Garann Kriek wel Patria se tweede drie gaan druk. Teen daardie tyd was Vishuis 23-10 voor en op die ou einde het Vishuis se losskakel, Dale de Wet die wedstryd met ‘n laaste strafskop beklink.
Foto’s: Christiaan Kotze/SASPA
‘n Bitter teleurgestelde Patria-kaptein, Hendrik du Plessis, was duidelik ontstig na die nederlaag.
“Ek dink op die ou einde wou Vishuis dit net meer as ons hê. Ons het gegaan om te wen, maar op die dag was hulle die beter span. Op die dag het ons wedstrydplan nie afgekom nie. Dit gebeur maar in rugby,” het hy genoem. Volgens Du Plessis is hy steeds trots op sy span wat met eer gespeel het, al het die telling nie in hulle guns getel nie.
“Die koshuistrots was daar en al die ondersteuning van die pawiljoene af in die finaal sowel as gedurende die hele Varsity Koshuisrugby-eindstryd, was ongelooflik.”
Nou lê die NWU Pukke se koshuisliga voor met Patria wat weer as wenners uit die stryd sal wil tree sodat hulle volgende jaar weer die Pukke se vlag in Varsity Koshuisrugby kan waai.
Foto’s: Wouter Pienaar






















