Gimmies is weer konings van die Classic Clash
n Verwoestende eerste helfte-vertoning van die manne in grys en blou het seker gemaak dat Gimmies vanjaar se groot FNB Classic Clash rugbystryd met 32-18 teen Volkies vanmiddag (27 Mei) verower. Dit was ‘n soete oorwinning vir Gimmies op Volkies se tuisveld en ‘n behoorlike kersie op die koek na ‘n uitstekende naweek wat Gimmies …
n Verwoestende eerste helfte-vertoning van die manne in grys en blou het seker gemaak dat Gimmies vanjaar se groot FNB Classic Clash rugbystryd met 32-18 teen Volkies vanmiddag (27 Mei) verower.
Dit was ‘n soete oorwinning vir Gimmies op Volkies se tuisveld en ‘n behoorlike kersie op die koek na ‘n uitstekende naweek wat Gimmies in verskeie sportsoorte met 26 wenne, 2 gelykop uitslae en 6 nederlae, altesaam oorheers het.
Dit was ‘n blou dag vir Volkies op die rugbyveld gewees en ‘n power eerste helfte waar hulle teen haltyd met 24-3 agter was, het hulle op die ou einde gekos.
Kaptein, George van der Westhuizen, was Gimmies se koning op die rugbyveld gewees en het met die gesogte beker in sy hand van die veld af gestap.
Nes ‘n ander bekende “Koning George” het Van der Westhuizen dalk nie veel gesê nie maar met sy doelgerigtheid en momentum gedrewe spel, briljante leierskap getoon.
Van der Westhuizen was op slot soos ‘n hoë toring in die lynstane wat gedurig sy span se eie balle en Volkies s’n keer op keer in die lug gevang het. Hy het boonop ook ‘n pragtige drie net voor halftyd gaan druk om Volkies ‘n behoorlike hou op die maag te gee.

Volkies se losskakel Hanru van Rooyen, het die eerste punte van die wedstryd met ‘n strafskop aangeteken, maar daarna het Gimmies die hele tyd voorgeloop, danksy drieë van Stephan Fourie, Marco van den Heever, Arno Gustafsson en Van der Westhuizen in ‘n amper foutlose 35 minute.
Volkies het wel nie gaan lê nie en het die tweede helfte stukke beter gespeel met drie drieë van hulle eie. Nommer vier slot Jacques Gouws het twee keer gaan druk, terwyl die woellige skrumskakel Jacques Reyneke die ander drie aangeteken het. Volkies het begin bloed ruik en het gedurig die druk op Gimmies gehou in ‘n goeie tweede helfte vertoning waar hulle op ‘n stadium met 14-man moes speel toe Van Rooyen vir ‘n hoogvat afgestuur is.

Awie Visser en Juan Reyneke het ook hulself goed van hul taak op senter gekwyt. Dit was wel net te veel om in te haal en Edrich Cronjé se drie met 5 minute oor het Gimmies se oorwinning beklink. Cronjé het ‘n goeie wedstryd in die nommer 10 trui gehad en het sy ervaring en talent bewys. Cronjé het ook met 2 doelskoppe en een strafskop geslaag. Sy verspreiding het gehelp dat Gimmies se agterlyn baie gevaarlik op tye was, met buitesenter Mitchelle van der Merwe wat keer op keer die lyn gebreek het.

Gimmies se vinnige hande en ratsheid op die aanval was grootliks verantwoordelik vir hulle oorwinning. Die lostrio van Jan-Hendrik van der Merwe, Waldouw Smit en Jaco Schoeman het ook goed as ‘n span saamgewerk en telkemale strafskoppe by die losgemaal afgedwing.
“Dit is ‘n groot hoogtepunt, ons het as manne saamgespeel en daardie spanwerk het ons daardie ekstra momentum gegee om die wiele aan die rol te sit vir die wen,” het ‘n ekstatiese van der Westhuizen na die wedstryd gesê.


Gimmies se George van der Westhuizen groet Jacques Reyneke na die taai stryd. Foto: Wouter Pienaar
Punte:
Gimmies 32 (24)
Drieë: Stephan Fourie, Marco van den Heever, Arno Gustafsson, George van der Westhuizen, Edrich Cronjé.
Doelskoppe: Cronjé (2)
Strafskop: Cronjé
Volkies 18 (3)
Drieë: Jacques Gouws (2), Jacques Reyneke
Strafskop: Hanru van Rooyen
*Lees meer in hierdie week se Herald oor die Classic Clash met foto’s en ‘n opsommende kyk na die naweek se uitslae en hoogtepunte.
Foto’s: Wouter Pienaar









