Luiperds wil tande in Haaie sink op Olënpark hierdie Saterdag
In sport wil die bal sommige tye net nie na jou kant toe hop nie. Die Luiperds ken hierdie gevoel nadat hulle verlede Vrydag met ‘n skrale drie punte teen die Vrystaat XV met 32-35 verloor het. In hierdie Supersport Uitdaagreeks-wedstryd het die Luiperds vir elke bal geveg, maar op die ou einde, ondanks flank …
In sport wil die bal sommige tye net nie na jou kant toe hop nie. Die Luiperds ken hierdie gevoel nadat hulle verlede Vrydag met ‘n skrale drie punte teen die Vrystaat XV met 32-35 verloor het. In hierdie Supersport Uitdaagreeks-wedstryd het die Luiperds vir elke bal geveg, maar op die ou einde, ondanks flank Gideon van der Merwe se besonderse driekuns, moes die Luiperds bekaf Potch toe keer.

Joseph Dweba, JW Jonker, Stephan Janse van Rensburg en Marco Mason het Vrystaat XV se drieë gaan druk. Mason het ook ‘n goeie dag met die skopskoen gehad en 20 punte altesaam aangeteken.
Henko Marais het die ander drie vir die Luiperds gedruk en ten minste vir Jonathan Mokuena se manne het hulle twee punte ingesamel vir vier drieë gedruk, sowel as ‘n verloor met minder as sewe punteverskil.
Nou moet die fokus na die Luiperds se eerste tuiswedstryd op Olënpark in meer as ‘n maand verskuif word en ‘n wen teen die Haaie sal broodnodig wees om vir die kwarteindronde te kwalifiseer.
‘n Maklike taak sal dit glad nie wees met die Haaie wat hulle vorm met ‘n 60-10 oorrompeling van die Griffons verlede naweek bewys het.
Die gevaarlike oud-Springbok Odwa Ndungane sal natuurlik sy staal wil bewys.
Die Haaie het ook in hulle vorige kragmeting met die Luiperds met ‘n gemaklike telling van 32-5 in Margate gewen.
Die Luiperds sal nie voor hulle tuisskare wil teleurstel nie en ‘n wen Saterdag sal net die regte doepa vir Mokuena se manne wees.
Die Luiperds se wedstryd teen die Haaie skop Saterdag om 15:00 op Olënpark af.
Ondersteuners word weer aangemoedig om hierdie Vrydag rooi aan te trek en komberse op die wedstryddag te bring vir die Luiperds se kombersprojek.



