Volkie hardloop saam die bestes by Wêreldkampioenskappe
Suid-Afrika se atletiekgeskiedenis is blink met ’n puik spanpoging by die o.18 Wêreld atletiekkampioenskappe in Nairobi, Kenia, waar Suid-Afrika as die beste land met 11 medaljes, insluitend vyf goud, weggestap het. Potchefstroom se enigste vlagdraer was niemand anders as Hoër Volkskool Potchefstroom se uitmuntende middel- en langafstand-atleet, Robert de Villiers nie, wat sy skool en …
Suid-Afrika se atletiekgeskiedenis is blink met ’n puik spanpoging by die o.18 Wêreld atletiekkampioenskappe in Nairobi, Kenia, waar Suid-Afrika as die beste land met 11 medaljes, insluitend vyf goud, weggestap het.
Potchefstroom se enigste vlagdraer was niemand anders as Hoër Volkskool Potchefstroom se uitmuntende middel- en langafstand-atleet, Robert de Villiers nie, wat sy skool en stad ontsettend trots gemaak het. Die kampioenskappe is vanaf 12-16 Julie aangebied.
De Villiers het in die seuns 2 000 meter hindernis-item deelgeneem en al het hy nie ‘n medalje verower nie, het hy steeds sy familie en ondersteuners gaande gehad met sy durf, deursettingsvermoë en doelgerigtheid, om ’n elfde plek in die finaal verlede Sondag los te hardloop. Sodoende is De Villiers tans die 11de vinnigste in die wêreld in dié item, sowel as die 8ste vinnigste Afrika atleet met ’n tyd van 06:05.23.

Die kompetisie was straf en hy het geweet dat hy die Keniane en Ethiopiërs sal moet klop – ’n moeilike taak op enige tydstip, wat nog te sê voor die dreunende Keniaanse tuisskare.
“Voor my wedloop het ek besluit dat ek net wil baklei. Maak nie saak wat gebeur nie.
My plan was toe om vinnig uit te gaan, want my pb (persoonlike beste, 5:48.06) is beter as van die ouens in die wedloop. As die pas vinnig was, het ek gehoop dat die ouens van die pas sal afval,” meen De Villiers na die wedloop.
De Villiers was vir die eerste 600 meter die voorloper gewees, maar het toe teruggesak en kon nie by die Keniane, Leonard Bett en Cleophas Meyan byhou nie.
“Ek het besluit om aggressief te wees maar my lyf en bene het lam geword so halfpad deur die wedloop. Ek is eintlik bietjie teleurgesteld met my tyd, maar die sal my net nog meer honger maak.
Ek wil probeer om in die toekoms te kompeteer met die Keniane en Ethiopiërs.” Die lekker ding van die wêreldkampioenskappe was beslis om die atlete van ander lande te ontmoet. Veral die ander ouens wat teen my hindernis gehardloop het. Ongelukkig kon ek nie die Keniane se program kry nie, want hulle sukkel bietjie met Engels,” vertel De Villiers verder.
Tog was die groot hoogtepunt vir dié kranige atleet om daardie atmosfeer van ‘n wêreldklas-kampioenskap aan te voel. “Die heel lekkerste was beslis om voor 50 000 plus mense te hardloop wat vir hulle Keniane skree.
Die atmosfeer en geraas kan mens nie in woorde beskryf nie. Dit was ‘n groot eer en ondervinding.”



