Beste netbalskole wag vir Gimmies se skitterspan
Daar moet iets spesiaal aan die nommer 17 vir Gimmies se o.17A-netbalspan wees wat verlede naweek as die nuwe 2017 Coke-Netbaltoernooi-wenners uit die stryd teen hulle Pretoriaanse eweknieë by Volkskool getree het. Menlopark, Garsfontein, Waterkloof en Affies moes terugsit vir hierdie Potchefstroomse span wat met spanwerk, tegniek en dissipline hulle ongelooflike onoorwonne jaar in 2017 …

Daar moet iets spesiaal aan die nommer 17 vir Gimmies se o.17A-netbalspan wees wat verlede naweek as die nuwe 2017 Coke-Netbaltoernooi-wenners uit die stryd teen hulle Pretoriaanse eweknieë by Volkskool getree het.
Menlopark, Garsfontein, Waterkloof en Affies moes terugsit vir hierdie Potchefstroomse span wat met spanwerk, tegniek en dissipline hulle ongelooflike onoorwonne jaar in 2017 voortgesit het.
Opgesom is Leonie Stander se uitstekende span besig om die land aan die brand te speel en die skolenetbal-landskap behoorlik op horings te neem met hulle uitstekende netbal.

Hierdie span is tot dusver wenners van onderskeidelik die Noordwesliga, Waterklooftoernooi, sowel as die Coke-toernooi.
Nou lê die SA “Best Schools” kampioenskappe in Boksburg by Hoërskool Dr. E.G. Jansen die naweek vanaf 4-6 Augustus voor en volgens Stander is haar span vasberade om as die land se beste uit die stryd te tree.
“My span se toewyding hierdie jaar is absoluut ongelooflik. Fiksheid speel ook ‘n groot rol in hulle sukses en hulle spangees is ook wonderlik,” beklemtoon Stander.
Dié o.17A-span speel teen groot skole in hulle poel die naweek soos Hoërskool Bloemhof, Hoërskool Stellenberg, Hoërskool Frikkie Meyer en sal ‘n groot toets vir Gimmies wees. Om die beste te wees moet jy die beste kan klop en dié o.17’s het bewys dat hulle genoeg vuurkrag het om as die beste gekroon te word.
Gimmies se o.19-span (wat SA-kampioene is) het slegs ‘n dertiende plek behaal, terwyl hulle jong o.14-span ‘n welverdiende tweede plek behaal het.
Volkies se o.16-span het ook hulle talent ten toon gestel en ‘n goeie 6de plek op hulle tuisbaan behaal.
Algeheel eindig Afrikaans Hoër Meisieskool eerste, met Menlopark tweede en Waterkloof derde. Gimmies eindig vierde by dié toernooi.






























